Het jy gehoor? / Have you heard? - Mar2021 Print
News - Het Jy Gehoor
Friday, 19 March 2021 04:46
Untitled Document

Teen die Bronnie se spertyd was die onderstaande gebeure vir die datums wat genoem word, beplan. Inperkingsregulasies mag veranderings tot gevolg hê.


Die vyfde Proe’toria fees word op 27 en 28 Maart van 9 vm tot 6 nm by Monte De Dios, plot 106, Achillesweg, Zwavelpoort gehou. Dié kos, wyn, proe- en vermaakfees word aangebied deur Whitley Neill Gin South Africa, Maroela Media, EPH Group, Caring Daisies en The Marketing Zoo. Die program op 27 Maart strek van Karen Zoid, Refentse en Riana Nel tot Die Heuwels Fantasties. Op 28 Maart is Jo Black, Early B en Janie Bay onder andere aan die beurt. Toegang is R150 per dag en kaartjies is aanlyn beskikbaar by tickets.tixsa.co.za. Kaartjies by die hek kos R180. Skakel 076-412-8556.

~*~


Boere word uitgenooi om deel te neem aan die Witpoort Oes-kompetisie, aangebied deur die Kaalvoet Kinderfonds in samewerking met Laerskool Witpoort. Om aan die kompetisie deel te neem, skenk boere die opbrengs van een hektaar gestroopte mielies aan die skool en dié fondse sal gebruik word om behoeftige leerlinge te help. Die boere met die grootste opbrengs staan ’n kans om pryse te wen ter waarde van R50 000, R30 000, R20 000, R10 000 en R5 000. Skryf in by Bernice van Staden: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of 083-236-5825.

~*~


BusStop7 is die naam van ’n mark wat elke Saterdag van 8 vm tot 4 nm en elke Sondag van 9 vm tot 4 nm op die hoek van Duiker- en Foxtrotstrate, Mooikloof Heights aangebied word. Die meer as 150 kraampies bied ’n verskeidenheid etes, organiese vrugte en groente, kaas, vryloop eiers, rou heuning, vleis, tuisgebakte brood en ander gebak. Daar is ook kuns- en handwerk-kraampies. Besoek www.busstop7.co.za.

~*~


Die nuwe regulasies vir vlak een van die inperking, laat teaters toe om 100 kaartjies per vertoning beskikbaar te maak. Nataniël hervat sy gewilde Gesels-reeks by die Atterbury-teater met ’n nuwe aanbieding waar hy die Vyf V’s bekyk: Verbasing, vrees, verlies, vergifnis en vermoë. ‘Gesels 2021’ word op 20 Maart om 11 vm en 3 nm aangebied. Kaartjies kos R290. Die teater se e-biblioteek by www.optog.co.za maak toneel- en musiekproduksies vir ’n langer tydperk beskikbaar. Hulle Hibernasie-stasie opwipwinkel is oop van Woensdae tot Sondae en tydens vertonings. Die teater is in Daventrystraat 4, Lynnwood. Skakel 012-942-5951.

~*~


Die Wapadrand Familiemark word in die onderdak parkeergrond by Atterbury Value Mart in Atterburyweg gehou. Dié mark bied elke Saterdag en Sondag van 9 vm tot 3 nm tuisgemaakte produkte en kos. Sosiale afstand moet gehou word en maskers is nodig vir toegang. Handreinigingsmiddels is by elke kraampie beskikbaar. Stuur ’n WhatsApp na 083-795-2840.

~*~


‘Simply The Best’ is die naam van ’n vertoning deur Corlea, Bibi du Preez en Wilha Carstens op
31 Maart by die Blou Hond, Casa Toscana Lodge. Kaartjies en ’n ete, waarvoor mense om 6 nm moet opdaag, kos R440. Die vertoning begin om 8 nm en kaartjies net daarvoor kos R270. Fatman tree op 7 April op in ‘Intiem & Akoesties’, ’n spesiale sitkamer-vertoningreeks met ’n ligte spyskaart. Gaste kan 5.30 nm vir 6 nm opdaag en kaartjies vir die vertoning alleenlik kos R200. Die teater is in Darlingtongweg 5, Lynnwood Manor. Skakel 012-348-8820.

~*~


Slagoffers van misdaad kan op weeksdae tussen 8 vm en 6 nm om hulp aanklop by die SunRise Trauma-ondersteuningsentrum by Garsfontein-polisiestasie, Johnny Claassensstraat 277. Dié sentrum is in Februarie 2013 deur die Wapadrant Gereformeerde Kerk in die lewe geroep. Die ondersteuningstruktuur sluit ’n span mediese dokters, prokureurs, rehabilitasiesentrums, maatskaplike dienste, psigiaters en terapiesentrums in. Hulle is na-ure op bystand en sou dit nodig wees, roep die polisie die vrywilligers na misdaadtonele uit. Skakel 012-348-1959.

~*~


Teatergangers was geskok toe die Brooklyn-teater in Greenlyn Village-sentrum vroeër vanjaar sy deure weens die pandemie finaal moes sluit. Die burgerregte organisasie AfriForum het dié teater oorgeneem en op 3 Maart met ’n regstreekse aanlyn geleentheid ingebruikgeneem. Die doel is om te midde van die ernstige impak wat die pandemie op die teaterbedryf het, steeds ’n tuiste vir Afrikaanse kunste te bied. Sanger, liedjieskrywer, akteur en aanbieder, Adam Tas, tree op 25 Maart om 8 nm hier op. Kaartjies kos R150 en is by www.dappermedia.co.za beskikbaar. Die teater is op die hoek van Thomas Edison en 13de Straat, Menlopark. Vir meer inligting besoek www. afriforumteater.co.za