Bokwagtertjie trap diep spore tot voorstad na sy herehuis vernoem word Print
News - Toeka se dae
Friday, 19 March 2021 05:01
Untitled Document

Angie Kleijn

Al ooit gewonder oor die statige ou Kaaps-Hollandse huis in Aloelaan, Lydiana? Of waar dié Pretoriase voorstad se naam vandaan kom? Die huis was die oorspronklike opstal op Lydia, die 20 hektaar plasie wat destydse minister Piet Grobler na sy vrou vernoem het.

Die Kruger Nasionale Wildtuin is in Piet se tyd as minister van lande gestig en hy word gesien as een van die wildtuin se drie vernaamste grondleggers. Die ander twee was James Stevenson-Hamilton en Piet se grootoom, president Paul Kruger. Dit is die reliëfbeelde van dié drie se gesigte wat in Maart 1989 by die Skukuza-hek se ingangskompleks opgerig is en later deel van die apartheidsbeelde-polemiek geword het toe SAN Parke se hoofbestuur besluit het om hulle te laat verwyder.


Die huis in Lydiana wat minister Piet Grobler na sy vrou vernoem het. Dié foto is in 1980 geneem
Foto: Gert Hatting van ‘Hoofstad’

’n Replika van dié reliëfbeelde het vir jare op beeldhouer, Phil Minnaar, se kleinhoewe in Ajaxstraat, Olympus gepronk. In September 2003 het ons vertel dat Phil se plot gewemel het met replikas van bekende kunswerke wat hy oor die jare voltooi het. Phil is op 23 Maart 2014 in sy huis in Ajaxstraat dood en wat van die replikas van sy beelde geword het, is nie bekend nie.

’n Kop-en-skouers beeldhouwerk van Piet is deur kunstenaar Fanie Eloff vir Piet se grafsteen in die Rebeccastraat Begraafplaas in Pretoria-Wes gemaak. Fanie het die beeld, geskep uit terrazzo (nagemaakte marmer), van Piet se gips-doodsmasker gemaak.


Die gedenkplaat by die Piet Groblerdam se uitkykpunt in die Krugerwildtuin
Foto: Africawild-forum.com

Opstal
Piet en Lydia Grobler se pragtige ou opstal is vandag steeds ’n baken in Lydiana. Volgens die Gereformeerde Kerk het die Groblers se kleinseun, Hennie Grobler, tot sy dood in 2019 in die opstal gewoon saam met sy vrou, Dalene, orreliste van GK Silverton, waar sy voorsitter van die susters was. Hennie was tot sy dood ouderling in dié gemeente.

Piet en Lydia het egter net vir 11 jaar saam in dié huis gewoon. Vandag dra die straat aan die huis se agterkant, Piet se naam. Die straatname is eers na Piet en Lydia se dood gegee toe die voorstad Lydiana in 1958 met 91 erwe tot stand gekom het. Daarvan was 79 spesiale woonerwe, drie sake-erwe, drie algemene erwe en ses is as ‘ander’ beskryf.


Die reliëfbeelde by die Krugerwildtuin se Skukuza-hek ingangskompleks. Van links na regs: Piet Grobler, Paul Kruger en James Stevenson-Hamilton
Foto: Wikipedia

Die huis, gebou in 1931, is vandag op ’n boomryke erf van 3 971 vierkante meter, wat reeds onderverdeel is. Dit is binne loopafstand van die Botaniese Tuine en die huis spog met sy oorspronklike houtvloere, reuse stoep en hortjiesvensters. Daar is vier slaapkamers, twee en ’n halwe badkamer, ’n sitkamer, gesinskamer, eetkamer, studeerkamer, groot kombuis, drie motorhuise, dubbel stafkwartiere met badkamer en ook ’n aparte woonstel.


Minister Piet Grobler
Foto: Standard Encyclopaedia of Southern Africa

Bokwagter
Met so ’n majestueuse huis kan ’n mens nie dink dat Piet as kind ’n bokwagtertjie was nie. Pieter Gerrit Wessel Grobler is op 1 Februarie 1873 gebore as seun van Wilhelmus Hermanus Cornelis Grobler en Alida Theunetta, ’n nooi Du Plessis.

Hy is in die huis van Paul Kruger, toe hy nog kommandant-generaal van die Transvaal was, op Boekenhoutfontein in die Rustenburg-distrik gebore. Piet se ma Alida was ’n dogter van Paul Kruger se suster, Sophia Margaretha Kruger, wat met Pieter Gerrit Wessel du Plessis getroud is.

As jong kind het Piet se ouers na die plaas Bierkraal, aan die ander kant van die Pilansberg, getrek. In 1883, toe Piet 10 jaar oud was, het sy ouers na die plaas Otterfontein in die Swartruggens-distrik getrek en later na Steenbokfontein, waar Piet vir die eerste keer in sy lewe onderwys ontvang het.


Piet en Lydia Grobler op die voorstoep van hulle Kaaps-Hollandse opstal in dit wat vandag
die voorstad Lydiana is
Foto: Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859–1959

Sy ouers was baie arm en Piet se werk was om die bokke op te pas. Dit het hom min tyd gegee om skool te gaan, maar hy het ’n ooreenkoms met ’n plaaslike onderwyser gemaak. Die onderwyser moes Piet in die veld, waar hy bokke opgepas het, gaan leer en dan sou hy vir die onderwyser ’n bok as betaling gee.

Ná drie maande het die skrander Piet glo toe net soveel as sy meester geweet en hy het die bok gaan oorhandig. Die onderwyser het geweier om die bok te vat en het gesê dat Piet alles self geleer het.

Piet wou verder leer, maar daar was geen geld nie. Hy het toe self begin skoolhou en nadat hy genoeg fondse ingesamel het, het hy besluit om na die bekende Pretoriase gimnasium van Meester Louis te gaan.


Die statige ou Kaaps-Hollandse huis in Aloelaan, Lydiana soos hy vandag lyk
Foto: Property24

Meester
In November 2008 het ons die verhaal vertel van die Hollandse meester Wessel Louis en sy koetshuis, waar die eerste kosgangers in stalle tuisgegaan het. Piet het egter nie in die stalle gebly nie; deur bemiddeling van Paul Kruger se seun, Tjaart, het Piet by die president gaan inwoon waar hy soos ’n kind in die huis behandel is.


Kunstenaar Fanie Eloff by die beeld wat hy van Piet se gips-doodsmasker gemaak het
Foto: repository.up.ac.za

Piet Grobler sit heel links voor in die 1933 foto van generaal JBM Hertzog se kabinet
Foto: An Illustrated History of South African History
.

Op die Krugerhuis se stoep het Piet menigmaal vir die president uit die Engelse koerante voorgelees en het later jare, wanneer daar besoekers uit die vreemde was, op die einste stoep as tolk opgetree.
Ná slegs ’n halwe jaar by die gimnasium het Piet eerste prys gewen in ’n kompetisie vir studiebeurse. Op 1 Augustus 1891 is hy op Meester Louis se aanbeveling as klerk by die onderwysdepartement aangestel.

Hy is later na die departement van mynwese oorgeplaas en het tussendeur private lesse in die aande bygewoon, ’n joernalis geword en was vir ’n ruk redakteur van ‘De Pers’. Piet is omstreeks 1893 met Lydia Magdalena Fouché getroud en hulle het vier seuns en ’n dogter gehad.


Piet sit regs voor in die 1929 foto. Van links na regs voor is: Frederic Creswell; DF Malan; JBM Hertzog; NC Havenga; en Piet Grobler. Van links na regs agter is: Oswald Pirow; Jan Kemp; Adriaan Fourie; EG Jansen; Henry Sampson; en C Malan
Foto: An Illustrated Dictionary of South African History (Transvaalse Argief)

Net ná die Jameson-inval in 1896 het Piet deur Europa gaan reis waar hy hom beywer het om die ware toedrag van sake in die Zuid-Afrikaansche Republiek bekend te maak. Met sy terugkeer in 1898, ongeveer ’n jaar voor die Anglo-Boere-oorlog, is Piet as onder-sekretaris van buitelandse sake aangestel.


Beeldhouer Phil Minnaar by die replikas van die reliëfbeelde by die Skukuza-hek op sy kleinhoewe in Ajaxstraat in Olympus in September 2003

Oorlog
In die oorlog het Piet by die Rustenburgse kommando aangesluit en het aktief aan die gevegte rondom Mafeking deelgeneem. Paul Kruger het Piet kort voor die inname van Pretoria terug geroep om ’n vergadering van die uitvoerende raad by te woon. Daar is besluit dat Piet die president as assistent-sekretaris Europa toe moes vergesel.


Die ingang na die ou opstal in Lydiana
Foto: privateproperty.co.za

Hy was byna drie jaar in Europa en het ná die oorlog terug gekeer en op sy plaas Commissiedrift in die Rustenburg-distrik gaan boer. Toe die Het Volk-party in 1904 gestig is, het generaal Louis Botha vir Piet gevra om sy wyk vir die party te organiseer. Hy het lid van die party se hoofbestuur geword, was voorsitter van die Transvaalse Landraad, direkteur van die Landbank en is in 1910 as volksraadslid vir Rustenburg verkies.

Met die skeuring tussen generaals Louis Botha en JBM Hertzog, het Piet hom by Hertzog geskaar. By die Nasionale Party van Transvaal se stigtingskongres in Pretoria op 26 Augustus 1914, is hy as voorsitter van die sentrale bestuur gekies.


Die ou opstal se hoofslaapkamer met sy plankvloere
Foto: privateproperty.co.za

Rebellie
Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, was Piet teen die Botha-regering se aanval op Duits-Suidwes-Afrika gekant en het by generaal CF Beyers aangesluit om te rebelleer. Piet is gevange geneem en moes van sy volksraadsetel afstand doen. Hy is vir maande lank aangehou en is op 4 Augustus 1915 tot twee jaar tronkstraf en £500 boete veroordeel.


Die ou opstal se eetkamer
Foto: privateproperty.co.za

Hy is op 10 Mei 1916 op parool vrygelaat en het weer in 1920 ná die opheffing van sy parool, aan politiek begin deelneem. In 1924 het hy sy kiesafdeling vir die Nasionale Party gewen en minister van lande in die eerste Hertzog-kabinet geword.

In dié termyn het Piet as wildbeskermer en natuurliefhebber voortgebou op Paul Kruger se planne en op 31 Mei 1926 is die Wet op Nasionale Parke sonder teenstem aangeneem. Die destydse Sabie-wildreservaat is geweldig vergroot en het die naam Nasionale Krugerwildtuin gekry. Dié wet het ook voorsiening gemaak vir die totstandbrenging van toekomstige nasionale parke.


Die opstal se ruim stoep
Foto: privateproperty.co.za

In 1929 het Piet leier van die Nasionale Party van Transvaal geword en is later as minister van naturellesake aangestel. In 1931 was hy verantwoordelik daarvoor dat die Kalahari-Gemsbokpark, Bontebokpark en Addo-olifantpark tot nasionale parke geproklameer is.


Die Krugerhuis se stoep. In 1936 het Piet Grobler, wat menigmaal hier uit die Engelse koerante vir die president voorgelees het of as tolk opgetree het, ’n radiorede vanaf die stoep af gehou
Foto: TD Havenscroft

Hart
In dié tyd het Piet aan ’n hartaandoening begin ly en hy is in 1935 Duitsland toe vir behandeling. Hy het op 3 Junie 1938 as minister en as volksraadslid bedank, maar is op 30 November 1938 tot Transvaalse senator benoem; ’n amp wat hy tot 23 November 1939 beklee het, waarna hy hom weens gesondheidsredes aan die openbare lewe onttrek het.


Die Piet Grobler-gedenkplaat
Foto: Africawild-forum.com

Piet is op 22 Augustus 1942 in die ouderdom van 69 jaar in Pretoria oorlede en is in die Rebeccastraat-begraafplaas begrawe. Lydia is op 17 Julie 1956 oorlede, twee jaar voor die voorstad Lydiana tot stand gekom het. Die pragtige ou opstal het daarná in familie-besit gebly