Merkwaardige Marie hekel dwarsdeur pyn en sigprobleme Print
News - Ons Mense
Friday, 19 March 2021 04:38
Untitled Document

Die 88-jarige Marie Tromp het besluit om vol te hou met die kombersies wat sy vir hawelose babas hekel, al het sy gehoor dat sy net ’n paar maande oor het om te lewe en al kan sy bykans glad nie meer sien nie.

Marie, ’n lidmaat van die Zwavelpoortse East View Methodist Church en inwoner by Kingswood Village, het jare reeds makulêre degenerasie, ’n siekte wat die grootste oorsaak van blindheid in Westerse lande is. Toe moes sy boonop in November verlede jaar hoor dat sy fase vier pankreaskanker het.

Wilma Cloete, ’n mede-lidmaat by East View, sê dat sy saam met Kinderwelsyn werk en so het ’n groep vrouens by die kerk besluit om uit te reik na Dove’s Nest en Tshwane Home for Abandoned Babies, wat deel is van Tshwane Kinderwelsyn en babas wat verlaat is inneem, ’n veilige hawe bied en aanneem-ouers soek. Hulle het ook betrokke geraak by Janine Rowley, wat die span van Women Against Rape aanvoer.

“In dié tyd het Marie amper 500 kombersies gehekel en geskenk terwyl haar oë so sleg is dat sy bykans heeltemal op gevoel hekel. As sy op enige oulike speelgoed afkom, kry sy dit ook vir die kinders,” sê Wilma.


Marie Tromp, regs, saam met Nina de Caires, wat aannemings vir Tshwane Kinderwelsyn hanteer

Marie is op 18 Julie 1932 in Pretoria gebore, waar sy deur die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog geleef het. Sy is in 1957 getroud en het na die destydse Rhodesië getrek, net om weer terug te keer na Johannesburg, waar sy en haar man 30 jaar gebly het en ’n seun en dogter grootgemaak het.

Ná Marie se egskeiding in die laat tagtigerjare het sy by ’n IT-maatskappy in Midrand begin werk. Sy het al hulle funksies gereël en interaksies met kontrakteurs behartig tot sy in 2005 op die ouderdom van 73 jaar afgetree het.

In dié tyd het sy terug getrek na Pretoria en in ’n aftree-oord in Waterkloof gaan woon. Sy is in haar vyftigs met makulêre degenerasie gediagnoseer, maar haar sig het eers in haar laat sewentigs erg agteruit gegaan.

Marie is ook as diabeet gediagnoseer en toe sy 75 jaar oud was, was haar sig so sleg dat sy nie meer kon bestuur nie. Dit het haar egter nie tot stilstand gedwing nie en sy het op die aftree-oord se vermaaklikheidskomitee gedien, waar sy funksies en kuiers gereël het.

Sy het altyd wyd gereis, maar verlede jaar moes twee belangrike reise weens Covid afgestel word. Sy sou in Maart 2020 na die VSA vlieg vir die geboorte van haar eerste agterkleindogter en sou ook in September 2020 na San Torini vlieg vir ’n toer op die Donau voor een van haar kleindogters se troue.

Nie eers dié twee teleurstellings kon Marie onderkry nie, sê Wilma. Sy sê dat Marie die positiefste mens is wat sy ken en alhoewel sy geweldige pyn het, kla sy baie selde.