Hoe kan ’n huilende boom jou
dié feesseisoen help oorleef?
Solank jy net nie jou feesmaal
se tafel onder die huilboerboon dek
nie, is daar ’n horde seisoenale kwelling
wat dié boom kan help behandel.
’n Aftreksel van die huilboerboon se
bas word gebruik om babelaas en
sooibrand te behandel. Bas- en wortelmengsels
word gebruik om die
liggaam te versterk en die bloed te
suiwer, om senuwee-verwante harttoestande
en diarree te behandel en
ook om die gesig te stoom.
Die sade is eetbaar nadat hulle gerooster
is en alhoewel hulle ’n lae
vet- en proteïeninhoud het, is hulle
hoog in energie-gewende koolhidrate.
Die bas kan gebruik word om
Kersversierings rooi te kleur en
meubels kan van die hout gemaak
word. Die hout is tradisioneel
gebruik om ossewaens en blokkiesvloere
te maak.
Die huilboerboon, Schotia brachypetala,
kry sy naam omdat dit lyk
asof hy huil terwyl oordadige hoeveelhede
nektar uit sy blomme
drup. Die ‘boerboon’ deel van sy
naam is afgelei van die boonvormige
sade wat deur die Voortrekkers
gerooster is, blykbaar iets wat hulle
by die Khoikhoi gesien het. Alle spesies
van Schotia het eetbare sade
wat baie soos die landbougewas,
boerbone, lyk.
Huilboerboon
Foto: Inheemse bome
Die boom kry sy genus, Schotia, by
die Oostenrykse botanikus, Nicolaus
Joseph Jacquin, wat hom na sy
vriend en reisgenoot, Richard van
der Schot, vernoem het. Hulle het
Suid-Afrika in die 18de eeu besoek.
Die brachypetala deel van sy naam
kom van ’n Griekse word wat ‘kort
blomblare’ beteken.
Die huilboerboon is ’n medium tot
groot skaduboom met ’n blaredak
van 10 tot 15 meter wyd. Hy kan tot
22 meter hoog word, alhoewel hy
gewoonlik 11 tot 16 meter hoog is.
Die boom verloor sy blare vir ’n kort
rukkie aan die einde van die winter.
Nektarryke rooi trosse blomme verskyn
in die lente. Die peule verskyn
daarna en bars aan die boom oop as
hulle volwasse word in die laat
somer tot herfs, ongeveer van Februarie
tot Mei. ’n Groot verskeidenheid
voëls, insekte en diere word
deur die blomme en sade gelok.
Nektarvretende voëls is nie al wat in
dié boom belangstel nie. Omdat sy
vrugte so baie bye en ander insekte
lok, kom insekvretende voëls ook
graag nader. Spreeus, ape en
bobbejane vreet die blomme;
ape en sekere soorte voëls die
sade; wildspesies die blare; en
swart renosters die bas.
Die huilboerboon plant maklik
voort deur saad. Hy moet in
goed gedreineerde sand geplant
word, kan maklik oorgeplant word
en is gedeeltelik kouebestand.
Jonger bome moet teen ryp
beskerm word.
Sy wortels kan skade aanrig en
daarom moet die huilboerboon nie
naby mure, swembaddens of plaveisels
geplant word nie. Moet ook
nie voertuie onder sy lekker diep
skadu parkeer nie; die taai nektar
wat uit die blomme drup is moeilik
om af te was. |