Amerikaners het ’n Kerstradisie
waar mense mekaar onder ’n
takkie ‘mistletoe’ moet soen.
Hier by ons word dié soort plante
voëlent genoem en hulle vrugte is
bekend vir ’n taaiheid waarmee
voëltjies gevang kan word.
Tog is daar ’n soort voëltjie wat ’n
mens maar kan sê ‘soen’ onder dié
taai omstandighede. Die geelblestinker
word gesien as die hoofverspreider
van voëlent in ons gebied
en plak byna aan sy kuikens se snawels
vas as hy hulle daarmee voer.
Daar is nege spesies tinkers in Afrika
en alhoewel vier van daardie spesies
amptelik in suidelike Afrika voorkom,
word die groentinker as plaaslike
uitgesterf beskou. In Bronbergwêreld
is dit net die geelblestinker
en bonthoutkapper wat voëlent versprei.
Geelblestinker
Foto: Wikipedia
Voëlent is parasitiese plante wat
hoofsaaklike uit die families Loranthaceae
en Viscaceae bestaan. In ons
land word hulle deur 13 genera met
38 spesies verteenwoordig. Die
meeste van hulle is belangrike voedingsbronne
vir geelblestinkers wat
die vrugte heel insluk en die sade
later uitbraak.
In ’n poging om van die taai sade
ontslae te raak, vee die tinker sy
snawel aan takkies af, waar die sade
dan vassit en begin groei. Dié voëltjies
vreet nie net voëlent nie, maar
ook ’n verskeidenheid vrugte en
groente en sal insekte vreet.
Kuikens word met voëlent
gevoer
Foto: Guy Upfold
Geelblestinkers, Pogoniulus chrysoconus,
val in die houtkapper-familie
en maak gate in dooie stompe of
boomtakke om hulle nessies te bou.
Beide mannetjie en wyfie grou die
nesgat tot hy omtrent 10 cm wyd is.
Hulle plaas dan ook taai voëlentsade
rondom die nessie se ingang, waarskynlik
om roofdiere af te skrik.
In die broeiseisoen is tinkers baie
aggressief teenoor ander houtkappers.
Die mannetjie laat sy kroonvere
regop staan, swaai sy kop, fladder
sy vlerke en ruk sy stert op en af
terwyl hy plofgeluide gemaak.
Die wyfie lê twee tot drie wit eiers
wat na omtrent 12 dae uitbroei. Die
kleintjies bly vir 21 dae in die nes.
Blykbaar kan hulle enige tyd van die
jaar broei en het drie tot vier groepe
kuikens ’n jaar.
Die 11 cm lange geelblestinker se
duidelikste kenmerk is sy geel voorkop,
maar aansienlike variasie kan
by die voorkopkleur voorkom. Dit
kan wissel van helderoranje tot ligte
geel, maar nooit die helderrooi van
die rooiblestinker nie.
Voëlent voor die nessie
Foto: Guy Upfold
Die geelblestinker is ’n plomperige
outjie met ’n kort nek, groot kop en
kort stertjie. Die geslagte lyk eners
en onvolwassenes is sonder die geel
op die voorkop. Die volwasse voël
se boonste vere is ’n swart wat
swaar gestreep is met geel en wit.
Sy kop het ’n sterk swart en wit
patroon en dan die geel bles. Die
onderste vere is ’n suurlemoen-geel
kleur.
Geelblestinkers is algemene standvoëls,
maar word nie maklik gesien
nie alhoewel hulle roepgeluid baie
bekend is. Hulle roep terwyl hulle
wegkruip met ’n tienk-tienk-tienk
wat as die geluid van ’n hart-longmasjien
beskryf kan word. Die geluid
is byna ononderskeibaar van dié
van die rooiblestinker, maar effens
stadiger met ’n laer toonhoogte. |