Onthou julle wat oom Francois van Nkwe of tannie Willa van Onbekend vir ons oor toeka se dae in
die Bronberg-distrik vertel het? Hier kyk ons weer hoe Mooikloof gebore is uit bankrotskappe, ons
maak ’n draai by Grootfontein se Erasmusse, The Willows se Strubens, Donkerhoek se villa, Pretoria
se eerste kuierplek en bekendste boemelaar.
Nkwe en die
Annandales
Die storie van Nkwe is die storie van
die Annandales – ’n familie wat ten
tye van ons April 2003 uitgawe al 108
jaar lank in Tierpoort gebly het. In
dié uitgawe het die 84-jarige Oom
Francois Annanadale vir ons die oorspronklike
1895 kaart en transport
van sy grond en die Anglo-Boere-oorlog
oorblyfsels wat hy in die verskansings
op die berg agter sy huis gekry
het, gewys.
Die dam net bokant Nkwe-oord se
bekende swemgat is geskep toe
oom Francois se pa, George Annandale,
die wal in 1930 gebou het om
sy landerye te besproei. Die plaas
was 385 morg groot met landerye
tot onder by Lynnwoodweg. Oom
Francois het in 2003 nog oor ’n
100 morg aan weerskante van die
Tierpoortteerpad, besit.
Hy het vertel dat mense toe reeds 45 jaar lank in die poele van die Pienaarsrivier
swem oor naweke. Nkwe-oord het homself gemaak, het hy gesê en al
wat hy en sy vrou Bettie gedoen het, was om ’n toegangsprys te begin vra.
Tannie Willa
van
Onbekend
Hans en Hannie van
Staden het die plaas
Onbekend in 1924
gekoop. In Junie 2004
het ons vir die eerste
keer by hulle dogter,
die 86 jaar oue tannie
Willa Dreyer, gaan
kuier.
Volgens tannie Willa is haar familie uit hul regmatige rykdom uit verneuk.
Haar pa Hans was ses jaar oud toe hy gesien het hoe die hoofgoudrif aan die
Witwatersrand in 1886 ontdek is op sy oupa, Gerhardus Cornelis Oosthuizen,
se plaas Langlaagte. Die feit dat die goud daar ontdek is deur sy skoonseun,
Hermanus Johannes van Staden, was vir jare lank onbekend. Daar is geglo
dat Peter Bernardus de Ville dié goud ontdek het.
Die Paarlse Sindikaat het die plaas van Gerhardus Cornelis Oosthuizen
gekoop vir £6 000 en de Ville was een van die mans wat namens die sindikaat
sake gedoen het. Die sindikaat het vir oupa Oosthuizen ’n pragtige
Bybel gegee, versier met egte goud wat uit die plaas gehaal is, maar selfs
dié goud het hulle verloor toe oupa ’n tweede keer trou met ’n Bester-vrou wat na sy dood vort is met die Bybel.
Mooikloof
gebore uit
bankrotskappe
Die storie van Mooikloof
begin met die afsterwe
van Daniël Jakobus Elardus
Opperman in die
1930’s, vertel ons in Februarie
2005. Mooikloof,
een van vier dele van die
oorspronklike plaas, is
deur ’n ontwikkelaar aangekoop
wat vinnig
bankrot gespeel het.
Die plaas is deur die bank terug geneem, maar dieselfde ding het seker ’n
goeie drie of vier keer daarna nog met Mooikloof gebeur en Volkskas het
met die grond opgeskeep gesit tot dit aan die Bester-broers verkoop is.
Toe die Bester-koninkryk begin wankel, het die broers die volgende plan
beraam om hulle uit die moeilikheid uit te kry: Hulle wou Mooikloof as ’n
grys dorpsgebied ontwikkel waar 20 100 mense op 4 800 enkelwoonerwe en
in 360 groepswooneenhede gevestig sou word.
Omliggende ploteienaars was hierteen gekant en veldtogte teen die verklaring
van Mooikloof as vryevestigingsgebied is in 1989 geloods. Toe die idee
laat vaar is, het die Besters finaal bankrot gespeel en Mooikloof is deur
Leorand Eiendomsmakelaars oorgeneem. Leorand het die landgoed in 1994
begin bemark as tema-ontwikkeling.
Grootfontein
se Erasmusse
In Julie 2006 berig ons dat
’n lugfoto wat ons die
vorige maand geplaas het,
stories oopgekrap het oor
die Erasmusse van die
plaas Grootfontein.
Erasmus-afstammeling
Elta Viljoen en haar man
Frans bly steeds op ’n deel
van die oorspronklike plaas wat haar oupagrootjie, Generaal Daniël Jacobus
Elardus Erasmus, met ’n perd in Paul Kruger se tyd uitgemeet het.
Sy seun Petrus Johannes Ernst, Elta se oupa, het die grond by hom geërf en
op sy beurt nagelaat aan sy seun Pieterman, wat saam met sy vrou Sannie
op die foto verskyn. Pieterman se seun Danie het die deel van die plaas
waarop die 1880 familie-opstal is, geërf. Hy het ’n deel van sy grond verkoop
en dit is waar die landgoedontwikkeling Grootfontein gebou is. Danie het
30 ha van die grond oorgehou en het ten tye van ons berig steeds in die
opstal gewoon.
’n Ander deel van die plaas het aan Kokkie Erasmus behoort. Hy het ’n
perderesiesbaan gebou wat vandag as Sinovichrylaan, wat van Garstfonteinweg-
verlenging tot by die Delmaspad loop, bekend staan.
Die Sinovich groep van maatskappye het in 1997 ’n deel van die plaas by die
Erasmus-familie gekoop om Rietvlei View Landgoed in 1999 te ontwikkel.
Kokkie het 15 hektaar van sy plaas uitgehou, waar hy gebly het tot hy in 2004 oorlede is.
Bekendste
boemelaar
In Augustus 2007 vertel ons die verhaal van
Paul August Moes, ou Pretoria se bekendste
boemelaar. Ou Moes se voorliefde vir drank
en mooi meisies het hom blykbaar op ’n jong
ouderdom reeds die afdraande pad laat
loop. Hy is in die Wes-Indiese eilande as die
erfgenaam van ’n sigaarfabriek, wat hy so
amper-amper weggedrink het, gebore. Sy
familie het hom weggestuur Suid-Afrika toe
waar hy as tolk ingespan is. Hy was Nederlands,
Duits, Frans, Engels en ’n bietjie
Spaans magtig.
Moes se gesegdes het ’n legendariese formaat
aangeneem. Met die afsterwe van ’n
drinkebroer het die skilder Hendrik Pierneef
besluit dat dit ’n gulde geleentheid is om vir
Ou Moes te preek oor die euwels van drank.
Hy het Ou Moes gevra of hy besef dat sy
vriend dood is van te veel drink. Ou Moes se kommentaar was: “Ga, dat
heb’t je nu van amateurs!”
Later het dit so sleg met die verslete Ou Moes gegaan dat hy snags in ’n leë
klavierkas geslaap het. Op die vraag of die muskiete hom nie te veel pla nie,
het hy gesê: “Nee, nooit. Jy sien, in die eerste helfte van die nag is ek te
dronk, en in die tweede helfte van die nag is hulle te dronk.”
Donkerhoek
se villa
In Junie 2008 berig
ons dat Donkerhoek
se trotse ou villa uit
die 1800’s deur ’n
destydse lid van Paul
Kruger se volksraad,
JMA (Donkie) Wolmarans
gebou is. Groot
dele van die struktuur
van die Wolmaranshuis,
soos die houtsneewerk,
vensters,
balke, vloere, deure
en kaggels, is uit
Engeland en Europa
verskeep en met
ossewaens na Pretoria
gebring. In die tweede Vryheidsoorlog is die huis deur die Engelse opgekommandeer
om as hospitaal te dien.
In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur ’n seun van
Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, J Levin,
verkoop. Die huis en grond is in 1924 deur JB Wouda gekoop en sedertdien
woon sy nageslagte daar.
JB Wouda was Dave Brink, wat sy hele lewe nog daar bly, se oupa. Dave se
ma, Ella Brink, was ’n bekende in die omgewing en het die grootste deel van
haar lewe, tot en met haar afsterwe ’n paar jaar gelede, in die ou opstal
gewoon.
Ella het vir jare die Avondson Hotel bedryf. Die hotel is langs die ou
Bronkhorstspruitpad op die plaas gebou. Ella se ma was in die vroeë 1900’s
die eienaar van die bekende Wouda losieshuis in Pretoria.
Pretoria
se eerste
kuierplek
In die mid-1880’s
was daar ’n kroeg
genaamd Gaiety
Bar op Kerkplein
waar President
Paul Kruger se
seuns bekende
gesigte was, berig
ons in Mei 2009.
Die Gaiety Bar was
deel van Albert Broderick, die eerste kroegeienaar en winkelier op Kerkplein,
se winkelkompleks, genaamd Hole in the Wall. Dié het sy naam gekry
omdat die kroeg ’n oop ingangsgedeelte gehad het.
Hole in the Wall is deur Albert se vriend, die bekende kunsskilder, ontdekkingsreisiger
en fortuinsoeker, Thomas Baines, verewig toe Thomas vir hom
’n skildery gemaak het as betaling vir sy kruidenier skuld.
Albertus Broodryk, soos die Boere hom spottenderwys herdoop het, het
met alles onder die son handel gedryf. Later was hy betrokke by in- en uitvoere
en het aandele in die mynbedryf, en verskeie plase in Transvaal gehad.
Hy het as kandidaat vir die Volksraad gestaan en het die verkiesing met ’n
enkele stem verloor.
Albert se bundel humoristiese verse was die eerste boek wat in die Transvaal
gedruk en uitgegee is. Albert het sy vermoë om met woorde te speel
ingespan om mense na sy winkel te lok. Sy produkte was bekend as goedere
van die “Kaap van Goedkoop”.
The Willows se Strubens
In Januarie 2010 vertel ons die verhaal van die
Struben-plaas, ‘The Willows’, die Strubenbroers
Harry en Fred, en ’n mislukte boerdery
wat tot die ontdekking van goud gelei het.
Harry het ‘The Willows’, geleë langs ’n buurplaas
genaamd ‘Hazeldean’, in 1862 gekoop en
sy broer Fred het as sy assistent gewerk. Op
‘The Willows’ het Harry vele mislukte boerderypogings
met volstruise en beeste gehad. In
1870 het hy besluit om met skape te begin boer
en sit af Aliwal-Noord toe met sy gesin en ’n
wavrag vol ivoor wat hulle vir skape geruil het.
Dit is
toe dat
hulle
hoor van die ontdekking van diamante,
die skape verkoop en diamantveld
toe is. Daar het bykans
almal van hulle siek geword en hulle
is terug na ‘The Willows. Harry het
sy belange in die diamantvelde
verkoop en begin reis. Toe die
Eerste Vryheidsoorlog uitbreek, is
‘The Willows’ verwoes.
Intussen het Fred in 1892 in Barberton
goud gesoek, nie gekry nie en is
terug na ‘The Willows’. Die twee
broers sou binnekort platsak wees
en het besluit om na New Zealand
te emigreer. Net voor hul dit kon
doen het ’n vriend wat saam met
Fred in Barberton was, daar
aangekom met ’n klip wat hy op sy
plaas, Wilgespruit, gekry het. Fred
was seker dat dié klip goud kon
bevat en hy het Harry oortuig om
die buurplaas, Sterkfontein, met sy
laaste geld te koop. Op die tweede
dag het Fred daar tekens van goud
gevind en die res, soos hulle sê, is
geskiedenis.
|