|
Oor die afgelope 24 jaar het ‘Toeka se Dae’ Bronnie-lesers aan karakters bekendgestel wat ’n draai in Pretoria gemaak het toe dié dorp nog in sy kinderskoene gestaan het. As deel van ons gedenkuitgawe, onthou ons weer ’n paar van dié merkwaardige mense.
Bekendste boemelaar

Ou Moes
In Augustus 2007 vertel ons die verhaal van Paul August Moes, Pretoria se bekendste boemelaar rondom die draai van die 19de eeu. Ou Moes se voorliefde vir drank en mooi meisies het hom op ’n jong ouderdom reeds die afdraande pad laat loop. Hy is in die Wes-Indiese eilande gebore as die erfgenaam van ’n sigaarfabriek, wat hy amper weggedrink het. Sy familie het hom na Pretoria gestuur.
Frank se sirkus
 Frank Fillis
Die eerste sirkus wat Pretoria in die laat 1800’s besoek het, was Fillis se Sirkus, bedryf deur Frank Fillis en sy vrou, bekend as Madame Eliza of Lazel, en hulle drie kinders, Frank, Adele en Cecil. In November 2007 vertel ons dat die sirkus se olifant aan tetanus beswyk het en die Fillis-gesin sy oorskot aan die Staatsmuseum geskenk het sodat sy vel en geraamte bewaar kon word. Krantz en Swierstra het die olifant geslag en opgestop.
Merkwaardige Mabel

Mabel Malherbe
In Augustus 2010 vertel ons die verhaal van Pretoria se burgemeester van 1931–32, Mabel Catherine Malherbe, afstammeling van die legendariese George Rex, die stigter van Knysna wat volgens skindertonge Koning George III se buite-egtelike seun was. Mabel was ’n 20-jarige Rooikruis-verpleegster toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Dis nie aldag dat ’n verpleegster burgemeester word, die land se eerste vrouetydskrif begin en tot die parlement verkies word nie.
Willem Wragtag

Willem Wragtag Prinsloo
Die destydse raakvat-boer, Willem (Wragtag) Prinsloo, moes vroeër twee plase afstaan nadat prospekteerders minerale daarop gekry het. In Augustus 2008 vertel ons dat hy keelvol vir trek was toe hy hom op Elandsfontein kom vestig het en verklaar het: As daar weer ’n prospekteerder naby my plaas kom, skiet ek vir hom “wragtag”. Thomas Major Cullinan het egter slinkse planne beraam om onder Willem se niksvermoedende neus vir diamante te prospekteer.
Liefdeskind lê hier
 Henry Rider Haggard
Generasies skoolkinders het Henry Rider Haggard as avontuurskrywer van boeke soos ‘King Solomon’s mines’ en ‘She’ leer ken. Ander ken hom uit die geskiedenisboeke as Britse koloniale amptenaar en landbouhervormer. ’n Minder bekende feit is dat Henry, toe hy in die 1870’s Pretoria toe gekom het, ’n buite-egtelike baba-dogtertjie in Kerkstraat se begraafplaas agtergelaat het. In April 2009 het ons die tragiese verloop van dié skrywer se liefdeslewe vertel.
Bobaas-spioen

Johanna Brandt
Niemand het vermoed dat Johanna Brandt en haar ma die Anglo-Boereoorlog se suksesvolste spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse in Pretoria bedryf het nie. In November 2011 vertel ons dat Johanna een van die min oorlogstydse geheime diens-werkers was wat nooit uitgevang is nie. Sy en haar ma, die weduwee Maria van Warmelo, het op die plot, Harmonie, gewoon waar die Normaalkollege se koshuise later gebou is.
Lang Piet se foto

Lang Piet Marais en generaal Koffie
’n Foto wat in die 1860’s van die langste en kortste man in Pretoria geneem is, was toentertyd oral te koop, skryf ons in Januarie 2008. Petrus Johannes (Lang Piet) Marais was ’n oom van digter Eugene Marais. Generaal Koffie, alias Baby Brown, was ’n sirkus-dwerg. Toe Lang Piet later direkteur van die Lydenburg Gold Prospecting Co en aandeelhouer in Transvaal Mining word, het hy probeer om al die foto’s te vernietig, maar die Pretoriase stadsraad het ’n eeu later weer ’n groot plakkaat daarvan gemaak.
‘Albertus Broodryk’
 Albert Broderick
In die mid-1880’s was daar ’n kroeg genaamd Gaiety Bar op Kerkplein, berig ons in Mei 2009. Dit was deel van Albert Broderick se winkelkompleks, Hole in the Wall. Albert kon goed met woorde speel en het gesê sy produkte kom uit die “Kaap van Goedkoop”. Albertus Broodryk, soos die Boere hom herdoop het, was ook by in- en uitvoere betrokke, het aandele in die mynbedryf en verskeie plase gehad. Sy bundel humoristiese verse was die eerste boek wat in die ZAR gedruk en uitgegee is.
Ouma Isie

Ouma Isie Smuts
Die staaltjies wat oor Ouma Isie Smuts vertel word is legio, skryf ons in Junie 2013. As vrou van staatsman Jan Smuts het sy nie altyd opgetree soos mense verwag het nie en Jan is gereeld aangemoedig om haar te oorreed om ’n bietjie deftiger, meer formeel en konvensioneel te wees. Hy het egter maklik ingeval het met Isie se idees, soos om die Britse koningsgesin in die Smutse se hout-en-sinkhuis op Doornkloof te onthaal, in plaas van die deftige ampswoning in Pretoria.
Van Gogh-broer
 Cor van Gogh
Dat Vincent van Gogh se jongste broer, Cornelis, in die Anglo-Boereoorlog aan die Boere se kant geveg het, is iets wat min mense weet. Dat hy in dié oorlog gesterf het, is iets wat jy op ’n gedenkbord in Pretoria, waar hy gewoon het, kan raaklees. Maar dat hy, nes sy beroemde broer, selfmoord gepleeg het, is iets wat die amptelike verslae van daardie tyd eers nie bekend wou maak nie. In Junie 2009 verklap ons die geheime agter Cor se selfmoord.
Leeutemmer Rudolph
 Rudolph Coetsee Selfs Eugène Marais het oor Rudolph Gustavus Coetsee en sy leeu, Oubaas, geskryf, vertel ons in Desember 2012. Rudolph, ’n prokureur van Cullinan, moes op ’n jagtog ’n leeuwyfie, wat iemand aangeval het, doodskiet. Sy het welpies gehad en Rudolph het die mannetjie gevat, hom Oubaas gedoop, mak grootgemaak en ’n film, ‘Logogotu’, oor sy lewe gemaak.
Heldhaftige Henrietta
 Henrietta Armstrong
Die Irene Konsentrasiekamp het ook ’n strafkamp vir oproerige vroue gehad, skryf ons in Maart 2016. Hulle was soms vir ’n dag lank sonder kos en water opgesluit. Om hulp aan dié konsentrasiekamp se noodlydendes te verleen, is die ‘Irene Vrijwilliger Verpleegsterskorps’ op 6 April 1901 onder aanvoering van Henrietta Ester Carolina Armstrong gestig. Sy het later ook groot betogings gereël, medestigterslid van die Moedersbond geword, vroue-organisasies help stig en tot die politiek toegetree.
‘Swart luiperd’
 Fritz Duquesne
In Januarie 2013 deel ons die verhaal van Frederick (Fritz) Joubert Duquesne, ’n Boeresoldaat, krygsgevangene, grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, makelaar, saboteur en avonturier. ‘Swart Luiperd’ was die kodenaam van dié sjarmante spioen wat Lord Kitchener, die argitek van konsentrasiekampe en die verskroeide aarde-beleid, se dood veroorsaak het.
Mexiko-kolonie
 Generaal Ben Viljoen
Een van die Boeregeneraals wat aan die veldslae van Donkerhoek en Witpoort deelgeneem het, het ná die Anglo-Boereoorlog ’n Boere-kolonie in die noorde van Mexiko by Hacienda Humboldt in die munisipaliteit van Julimes in Chihuahua begin, skryf ons in Julie 2013. Ben Viljoen se lewensverhaal lees soos ’n avontuur – van veldslae en krygsgevangenskap tot ’n oorlog-sirkus; van vriendskap met die Amerikaanse president tot vertroueling van Mexiko se revolusie-leier.
Weeskind Anna
 Anna Vermaak
Anna Vermaak was maar ses jaar oud toe haar ma dood is, vertel ons in Julie 2018. Twee jaar later is haar pa dood en haar stiefma het die wesie na die Gereformeerde Kerk Pretoria geneem. Anna is sonder haar boeties en sussies na ’n verre dorp weggestuur. Sy is in ’n kort tydjie drie keer aangeneem tot sy op 16-jarige ouderdom met ’n man 32 jaar ouer as sy, getroud is. Anna het drie eggenote oorleef, 33 kinders versorg en 96 jaar oud geword.
Kranige grootprater
 Koos Jooste
In Maart 2014 word Bronnie-lesers voorgestel aan ’n eksentrieke man wat waarskynlik een van die kranigste grootpraters was wat die wêreld nog gesien het. Koos Jooste het vir dekades ná die Anglo-Boereoorlog nog as sogenaamde Boere-kommandant in Europa ’n bestaan gemaak uit praatjies, self-gepubliseerde blaadjies en poskaarte met foto’s van homself in heldhaftige posisies.
Argentynse kolonie
 Camillo Ricchiardi
Myra Güttmann en haar Italianer, Camillo Ricchiardi, bevelvoerder van die verenigde Uitlanderkorps, het Boere-vlugtelinge na Argentinië help repatrieer, skryf ons in Julie 2014. In die Anglo-Boereoorlog was die 16-jarige Myra ’n Rooikruis-verpleegster en sy het Camillo ontmoet toe sy hom in die Pretoriase hospitaal verpleeg het. Hulle is in 1901 in Frankryk getroud en het na Suid-Amerika verhuis, waar Camillo in 1902 as administrateur van Boere-vlugtelinge in Patagonië aangestel is.
Vurige kampvegter

Mabel Jansen
Mabel Jansen het in 1917 die eerste Afrikaanse grammatika-boekie opgestel om skoolkinders te help met taaleksamens, skryf ons in Januarie 2017. Sy was ’n kampvegter vir Afrikaans en die Afrikaner-kultuur, aktief op politieke, maatskaplike en kulturele gebied én ’n skrywer. As weduwee van die goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, dr Ernest George Jansen, het sy vir jare alleen in Irene gewoon saam met haar hond, Referendum, wat deur ’n joernalis as ’n “afskuwelike, lelike en mankolieke ou brak” beskryf is.
|