|
Baie tuiniers glo vas dat as een by jou gesteek het, ander bye in die omgewing dit kan ruik en dadelik naderkom om jou ook “aan te val”. Hoeveel waarheid steek daar in dié oortuiging?
Die kenners sê dat waarskuwingsferomone vrygestel word met die inspuiting van gif in die slagoffer en dat dit nabygeleë bye aanhits om ook aan te val. Dié proses word versnel as die by noodlottig beseer is.
Volgens ‘Chemical Communication in the Honey Bee Society’ ruik die waarskuwingsferomoon soos piesangs; dit ontbind nie en was nie vinnig af nie. Selfs al sou jy in water inspring, sal bye hulle aanval hervat so gou as wat jy die water weer verlaat.
 ’n By se angel, wat van haar lyf afgeskeur is, vas aan ’n beskermende bekleedsel Bron: Wikipedia
Versteur Volgens ‘Bee Keeper Corner’ is die oorsaak van die oorgrote meerderheid bysteke wanneer ’n byekorf per ongeluk versteur word. ’n Bytjie wat ver van die korf af na stuifmeel of nektar op soek is sal selde steek, behalwe wanneer sy bedreig voel.
En ja, sê Jessica Tucker van ‘A–Z Animals’: die bye wat aanval is almal wyfies. Dit is net wanneer bye soogdiere, wat dikker velle het, steek dat die angel in die dier se vel agterbly en die by vrek. Wanneer hulle ander bye steek, verloor hulle nie hulle angels nie en kan verskeie kere aanval.
Bye steek mekaar wanneer hulle kolonie bedreig word. As ’n by van ’n ander kolonie in die byekorf inkom, sal dié indringer doodgesteek word. As ’n hele swerm ’n ander een aanval, kan die ‘oorlog’ so erg raak dat bye sukkel om vriend van vyand te onderskei en kan hulle eie makkers dan doodsteek.
Volgens ‘Bee Keeper Corner’ is ’n swerm bye wat vlieg oor die algemeen nie vyandig nie omdat hulle die korf verlaat het en geen kleintjies of heuningkoek het om te verdedig nie. Tog is dit raadsaam om van die swerm af weg te bly.
 Die bekleedsel en angel skeur uit die by se lyf Bron: Wikipedia
Dansie Bye gebruik nie net feromone om met mekaar te kommunikeer nie, maar ook lyftaal en ’n spesifieke soort dansie wat hulle uitvoer as hulle bedreig voel. Dié dansie maak dit aan ander werkerbye duidelik dat daar ’n indringer is, so hulle is ekstra waaksaam en gereed om hulle kolonie te verdedig.
Die beskikbaarheid van kos is ’n belangrike omgewingsfaktor wat bye se optrede beïnvloed. Wanneer nektar-ryke blomme skaars is, kan bye hulle gebied meer aggressief beskerm, wat na meer bysteke kan lei.
Weersomstandighede is ook ’n faktor wat bye se optrede beïnvloed. Wanneer die temperatuur en voggehalte hoër is, raak bye meer aggressief en verdedigend omdat hulle probeer om hulle liggaamstemperatuur te beheer en hulleself teen potensiële bedreigings te beskerm.
 Die angel bly in die vel agter Bron: Wikipedia
Bloedgroep Een van die legendes rondom bysteke is dat bye tot sekere bloedgroepe aangetrokke is. Volgens Anderson James het dié mite waarskynlik sy oorsprong by ’n 1964 studie wat in die ‘New England Journal of Medicine’ gepubliseer is. Die studie het genoem dat mense met tipe O-bloedgroep baie meer gereeld deur bye gesteek word as enige ander bloedgroep.
Die bevindings is later grootliks in twyfel getrek en die voorbeelde wat gebruik is, word deesdae nie as statisties belangrik beskou nie. Anderson sê dat daar geen wetenskaplike bewyse is dat bye sekere bloedgroepe sal teiken nie. Navorsing wys eerder dat bye reageer op koolstofdioksied, aminosure, ammonia, melksuur en ander vlugtige verbindings wat mense produseer wanneer fisiese aktiwiteite hulle laat sweet.
 ’n By nader ’n laventelplant op die Swaeltjie-landbouhoewes Foto: Frik Bezuidenhoudt
Sweet ‘Doctor Guide Online’ stem saam en sê dat sweet van mens tot mens verskil, afhangende van genetiese faktore, dieet, emosionele toestand (streshormone), velafskeidings, gesondheid en hidrasievlakke. Die bakterieë op die vel produseer unieke geure en verskillende bakteriese kolonies veroorsaak verskillende geurprofiele wat die menslike reuk vir bye meer aantreklik of bedreigend maak.
Sekere helder kleure kan bye ook lok omdat dit soos blomme lyk en higiëne produkte en parfuum kan ook ’n rol speel. Skielike bewegings kan aggressiewe gedrag uitlok, ongeag van jou biologiese kenmerke.
|