|
Vyf gewenste Kerspersente vir die Bronberg
Hier is vyf Kersgeskenke – kompleet met strikkies en klokkies om – vir die Bronberg-gebied. Ou Poon het gaan kyk na dinge wat ons lesers pla, grensloos irriteer, frustreer en hartseer maak. En toe het hy lank, diep en innig gaan soek na ’n geskenkie wat elke verpesting op sy plek sal sit.
Vullis Kersvader het gesê hy is ten volle bereid om ons te help om ’n patrollie te reël. Hy sal sy takbokke ook inspan om die mense wat hulle vuilgoed langs ons paaie stort, te help opspoor. En dan vat ons daardie sakke wat ten hemele stink en Kersvader vervang dit met die ou geskenkies wat vir die vullis-storters bedoel was. Hy glip dan met die morsjorsige sakke vol rommel deur die Jorse se skoorstene om dié verrassinkies onder hulle Kersbome te gaan stort.
Gatpaaie Rudolph sê hy is baie bly dat hy nie Kersvader se slee oor ons paaie hoef te trek nie. Selfs net die landslag op plotpaaie gee hom heeljaar lank nagmerries. Hy sien van jaar na jaar hoe die ontwikkelaars se groot lorries die paaie verwoes wat die plotmense al die jare self in stand gehou het. Hy gaan vanjaar ’n paar ontwikkelaars se stootskrapers agter aan die slee vasbind, kompleet met operateurs ingesluit, en aflaai by elke pad wat reggemaak moet word.
Vlamme Die Kersfabriek se elfies onderneem om hierdie jaar spesiaal grafsteentjies op te sit vir elke duiker, skilpad, hasie, padda, krimpvarkie, voël en sommer ook vir al die goggas wat jaarliks in ons gebied se veldbrande sneuwel. Kersvader gaan nie meer geskenke aflewer vir die mense wat die veld aspris aan die brand steek omdat “die vlamme so mooi is vir die kinders” nie. Hy gaan ook elke ou wat ’n weghol voorbrand veroorsaak vir ’n ruk laat vlamme slaan by ou Niek se warm plek.
Kitskursus Kersvader borg vanjaar ’n spesiale prys vir die menige wildtuine, wildparke en bewareas in ons gebied – ’n kitskursus in wildbestuur. Rudolph sê die heel eerste les in dié kursus sal wees dat takbokke nie natuurlik in die Bronberg voorkom nie. Hulle sal ook leer hoe om die arme diere nie vir ewig te traumatiseer en te verwond as hulle probeer om wildgetalle onder beheer te bring nie.
Stormloop Ontwikkelaars het ’n vreeslike ding in ons kontrei kom doen. Oorle Kaalvoet Jan het gesê dat ploteienaars soos ’n trop uitgedorste buffels op ’n hoë-digtheid ontwikkelaar se aanbod om te koop, afhardloop. En dit sonder om enigsins om te gee wat daarna met die ou stukkie grond gebeur wat hulle dekades lank vertroetel het. Ons vra die elfies om te werk aan ’n soort bril. As jy hom opsit kan jy nooit weer bome of gras of grond of selfs enige rondings sien nie. Jy sien net vierkantige vorms, bakstene, plaveisel, teëls en sinkplate. – Gerhard Kleijn, Desember 2008 (verkort).
|