’n Boereplan met lastige smousperde Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 15 November 2025 08:00
Untitled Document

Net die meer senior burgers van die Bronberg sal hulle onthou. Hulle wat ’n leeue-aandeel in die makmaak van die destydse platteland gehad het. Hulle wat oor ’n lang tydperk die nodige (en onnodige) lewensmiddele binne bereik van die vroeëre boere gebring het. En hulle waaroor talryke staaltjies en stories vandag nog dikwels met deernis oorvertel word.

Hulle was die smouse van ’n vorige era. Reisende handelaars wat met hulle negosieware ingepak op donkiewaens of muilkarre van plaas tot plaas gereis het om hulle brood te verdien en die weg te baan vir hulle nageslagte wat die ekonomiese rugmurg van die land sou word. Hulle was die wandelende Jode; die eerste ‘travelling salesmen’ van Suid-Afrika.

Só ’n smous was ene Siegie Lotzof. Siegie het sy sake rondom die 1930’s in die Vrystaat se Riemland bedryf. Oom Flip Wepener, ’n bekende boer van Petrus Steyn se wêreld, vertel dat Siegie, soos die geldnood dit vereis het, perde, beeste en skape aanvaar het as betaling vir die ware wat hy versmous het.

Dit gebeur toe so dat Siegie op ’n dag met ’n tienstuks versmouste perde by oom Gerrie Muller se plaas aandoen, vertel oom Flip. Siegie praat toe sy pad by oom Gerrie oop – met ’n gladde Afrikaans soos al die Boerejode van toe kon doen – dat die perde vir eers by oom Gerrie kon vertoef. Net vir ’n korte wyle. Tot hy hulle veiling toe sou aanjaag, verseker Siegie hom.

Maar die weke en die maande het verloop en Siegie se troppie perde het, ondanks baie versoeke, pleidooie en selfs dreigemente, op oom Gerrie se kosbare weiding bly loop en naderhand blinkvet geword.

Telkens as Siegie sy smousdraai by oom Gerrie gooi, belowe hy dat hy sy veldverterende perde volgende week sal kom haal, maar dit gebeur nie. Die smous wil wag tot die perde se kondisie van so ’n aard is dat hy die allerbeste prys op die veiling sal kry en intussen begin oom Gerrie se skape en sy sak daaronder ly.

Oom Gerrie Muller was ’n boer en ’n boer maak ’n plan, sê oom Flip. Op ’n mooi dag het Lotzof se wandelpad hom weer verby oom Gerrie Muller se plaas geneem en soos die gebruik was, sit die twee op die opstalstoep en koffie drink en gesels.

Nou het oom Gerrie sy volk vooraf die opdrag gegee om Lotzof se perde aan te keer en op te saal as hulle die perdekar om die drifdraai sien aankom.

Die boer en die smous sit nog so op die stoep en praat oor die weer en die mielieprys en ander belangrike onderwerpe toe die eerste van Siegie se perde met ’n donderende spoed onder die saal van ’n jillende plaaswerker in ’n stofwolk oor die plaaswerf verbygejaag kom.

En op sy hakke kom die volgende een en dan nog een en dan al die ander. Hulle gooi ’n gevaarlike, windmaker draai en dreun dan weer voor die opstalstoep verby.

Die smous se mond hang oop en ná ’n kort geskokte stilte laat waai hy verontwaardig: “Maar, miester Muller, maar dis mos my perde daardie! Wie het gesê die mense kan so met hulle jaag?

“O,” sê oom Gerrie. “Dis elke dag se ding. Op dié manier hou ek hulle besig dat hulle nie al my skape se weiding kan opvreet nie, en dit hou sommer die volkies ook uit die kwaadgeld uit.”

Die volgende dag het Siegie Lotzof sy perde laat haal. Gerhard Kleijn – Oktober 2007.

 

© 2025 Die/The Bronberger