|
“In daardie dae was ons maar arm. Vrek arm, in daardie dae,” sê ou Nico.
Blink Gert Mossie gee ’n ‘gmf’ uit die hoek uit en mompel iets op Ingils wat klink soos: ‘spieks for jôrself.’
“En as jy nie ryk is nie, moet jy slim wees,” gaan Nico onverpoos voort.
Maar Blink Gert tjip weer in met ’n wysheid: “As jy slim was, was jy nie arm nie en sou dit nie nodig gewees het om slim te wees nie want jy sou ryk gewees het.”
Almal se aandag is vir ’n wyle na binne gekeer soos hulle Blink Gert se stelling probeer verwerk. En dan hef ou Nico weer aan.
Dit laat hom dink aan ou Daan, sê hy. Ou Daan was die enigste onder ’n groep vriende wat destyds net begin werk het, wat die luukse van ’n voertuig gehad het, sê Nico. Dit was nou wel ’n opperste ou tjorrie wat met komplimente van sy oorle ouma se boedel in Daan se besit gekom het, maar dit was meer as wat die ander vriende gehad het.
So het Daan dan elke oggend die tjorrie opgesaal en koers gekies stad toe waar hy gewerk het. En dan is hy elke middag weer ná werk met die tjorrie terug na die plotplek buite die stad waar hy gebly het.
Maar soos die maand gevorder het, het die geldjies al hoe minder geword en gevolglik ook die vermoë om sous vir die tjorrie aan te koop. Julle moet onthou, ons was in daardie dae maar vrek arm, sê Nico.
In die laaste paar dae voor betaaldag was ou Daan klokslag heeltemal platsak en dan moes hy hom maar op duimgooi verlaat om by die werk te kom. En dit was nie altyd maklik nie. Soms het mense in hulle eie haas om by die werk te kom nie stilgehou om Daan op te laai nie en dan was hy laat vir werk en soms het hy baie laat eers by die huis aangekom.
Dit is toe dat ou arm Daan ’n baie slim plan maak. In sy besit het hy ’n nuwe waaierband (dis nou ’n fênbelt, Harry) vir die tjorrie gehad en ook die ou stukkende een wat hom laas langs die pad laat staan het toe hy vir sy ouers op die plaas gaan kuier het.
As hy dan in die platsak-dae soggens voor betaaldag langs die pad staan op soek na ’n geleentheid (’n lift, Harry) werk toe, hou hy die stukkende waaierband in sy hand vas. Die mense kry hom jammer oor hy dan nou so gestrand is weens die ontydige ingee van die waaierband en sommer gou word hy opgelaai.
En as hy ná werk weer huiswaarts moet keer, hou hy die nuwe waaierband vas en die mense meen die arme Daan moet met die onderdeel terug na sy gestrande motor en laai hom geredelik op. Soms nog dieselfde ou wat hom die oggend opgelaai het . . . Gerhard Kleijn – Oktober 2005.
|