|
Ou Pienk Piet sê hy soek onlangs ’n lafenissie in ’n kuierplek toe hy gedwing is om iets in die groot dorp te gaan doen. Die plek is besig. Hy het nog nooit so baie vreemdelinge bymekaar gesien nie, sê Piet.
Op ’n kol raak dit dringend dat hy van die vorige bier wat hy teen die dors ingespan het moet gaan uitlaat, maar hy sit met ’n probleem, sê Pienk Piet. Die probleem is dat die kroegman nou net ’n vars beker bier voor hom staangemaak het en hy ken nie die ander ouens in die kroeg nie.
En hy vertrou nie ouens wat hy nie ken nie, veral nie die ouens in die groot dorp nie. Hulle sal sweerlik sy bier drink as hy weg is. Hy oorweeg dit eers om die beker saam te vat, maar jy moet mos twee hande gebruik en die lekplek is buitendien nie ’n plek waar jy graag jou kosbare bier heen vat nie, sê Piet.
Toe kry hy ’n blink plan. Piet skeur ’n blaadjie uit sy notaboek en skryf in groot vet letters daarop: “Ek het in dié bier gespoeg.” Hy skuif die briefie onder die beker in en gaan doen ewe tevrede wat gedoen moet word.
Toe hy terugkom staan die bier ook nog net so daar, maar iemand het onder sy boodskappie geskryf: “Ek ook.”
Kattekwaad Hy onthou nog toe vrugtesteel kattekwaad was en dit deur kwajongens gedoen is. Dis voor dit ernstige diefstal en kwaadwillige saakbeskadiging geword het wat deur boewe gepleeg word, sê ou Hans.
Hans sê hy was ’n vernuftige kwajong wat saam met sy maters goed onder die dorp se boorde geoes het. Die grootste deel van die pret was natuurlik om die eienaars van die vrugte te uitoorlê.
En daarin was hy ’n meester – nooit gevang nie, spog Hans. Maar sy oupa Jônnie op die plaas se watertand druiwe was ’n ander saak, sê Hans. Oupa Jônnie was uitermatig erg oor sy pragtige druiweprieel en daai druiwestokke is behoorlik vertroetel en opgepas.
As die trosse begin swel mog niemand anders naby die prieel kom nie. Oupa Jônnie het elke trossie op die voornaam geken en net hy het geweet wanneer dit plukgereed is en net hy mag dit pluk – anders is die duiwel behoorlik los.
Die korrelsand wat in die koelte van die prieel gelê het, is gereeld met die duntandhark gelyk gemaak en behoede die een wie se onregmatige voetspoor oupa Jônnie daar sou raakloop.
Nou sê Hans het hy naweke op sy oupa se plaas daardie pragtige trosse so op ’n afstand bewonder en begeer, maar sy gesonde verstand het hom vermaan teen daadwerklike optrede. Die trosse wat oupa Jônnie gepluk het en vir die kinders gegee het, was natuurlik nie naastenby so lekker soos wat dit sou wees as Hans dit kon zoi nie.
So het jare verloop totdat hy op een mooi dag die lig sien, seg Hans. Sy oupa het natuurlik dadelik agtergekom as daar oor naweke ’n tros of twee soek raak, maar hy kon nie verstaan hoe dit gebeur nie.
Sy plan was beeldskoon. Só eenvoudig dog só perfek, sê Hans. Hy het geweet sy oupa Jônnie gaan lê soos klokslag na elke middagete vir ’n uur of wat ’n bietjie skuins. Dan het die kleine Hansie saggies die kamer ingesluip en sy oupa se skoene wat voor die katel gestaan het, gegaps, sy voete daarin gedruk en ewe luiters onder die prieel ingestap.
Gerhard Kleijn – Junie 2006.
|