|
Klein Hannes de Beer sê hy was ietwat verbaas oor vriend Snyman se blink idee om hulle, sonder die gevaar van spoedkaartjies, vinnig terug te kry in Pretoria. Vriend Snyman staan immers in die bediening.
Maar hy wou betyds wees vir ’n ‘belangrike afspraak’ ná hulle besoek aan die Kaap en daarom het hy dié slim plan beraam.
“Die kalf,” het Snyman gesê, “is in die puts”. Snyman is terloops ’n boorling van Namakwaland.
Modder “Deesdae,” het hy verduidelik, “staan die spietkops nie meer met gatsometers en goed langs die pad nie. Nee, hulle gebruik onbemande kameras wat jou afneem, jou spoed meet en dan spoor hulle jou op deur jou nommerplaat om jou boete op jou te bedien.”
Maar, het Snyman gereken, as hulle nie jou nommerplaat kan lees nie . . . Wat die oog nie kan sien nie . . . , het hy gesê.
Nood Net daar langs die pad in die dorre Karoo, het Snyman met behulp van klein Hannes se kosbare padkosbier modder aangemaak en dit soos ’n wafferse Picasso op die nommerplate geverf. “Nood leer dink,” sê Snyman.
Toe het hy nog die vermetelheid om sy hande met die laaste van die lafende Duitse bruisdrankie af te spoel, sê klein Hannes. “Met die versoeking uit die weg, kan ons jou dalk speen van dié nare gewoonte,” het die wyse Snyman laat hoor. “Twee vlieë met een klap . . .”
Bekwame spoed Hoe ook al, hulle sit toe met bekwame spoed af deur die stil Karoo op pad na die noorde en Snyman se ‘belangrike afspraak,’ sê klein Hannes.
Snyman is soos ’n kat wat room gekry het oor sy slim plan. Telkens as hy een van die gewraakte spoedkameras op ’n paal langs die pad eien, sê hy iets simpels soos: ‘Uit die oog, uit die hart’. Klein Hannes sê hy sit maar dikbek en droëbek en kyk hoe die dorre landskap verbyflits. Hý is nie haastig nie. Hy is dors.
Nommerpas Alles verloop nommerpas volgens die eerwaarde Snyman se plan en hulle vreet behoorlik aan die kilometers. Dis toe hulle weer ewe versigtig en stadig in een van die klein Karoodorpies inbeweeg dat sake vir Snyman lelik skeef begin loop, sê klein Hannes.
’n Uitgevrete spietkop spring met wit handskoen omhoog voor hulle in en wys hulle moet summier van die pad aftrek.
Verstomming Die spietkop loop ’n slag stadig om die motor tot by Snyman se oop venster, haal sy boekie uit sy bosak en sy pen agter sy oor uit. “Naam,” vra hy bars. Die verstomming staan in hoofletters op Snyman se gesig geskryf, sê klein Hannes.
“Maar ek kan sweer ek het nie ’n spoedlokval gesien nie,” sê Snyman.
“Ja,” sê die spietkop, “en ek kan ook nie jou nommerplate sien nie. Ons maak dit ’n ronde R1 000.”
“Slim,” sê klein Hannes so ewe, “vang toe sy baas . . .”
Gerhard Kleijn – Maart 2005.
|