Lees ek anderdag in ’n dagblad van die student wat dit só gevier het oor sy eksamen klaar was dat hy die huurmotor wat hom by die paartie kom oplaai het gesteel en huis toe gery het. Juis oor hy ’n verantwoordelike jong man is wat die gevare van drink en bestuur ken, het hy gereël dat die huurmotor hom ná die brassery saam met sy vriende moet kom oplaai.
Seker het die huurmotorbestuurder uitgeklim om ’n bietjie bene te rek. Die blink gepoetste mannetjie het toe ewe luiters agter die mik ingeskuif en huiswaarts gekeer.
Toe hy die volgende oggend deur sy roes-newels buitentoe kyk, kon hy glad nie verstaan wat die huurmotor in sy oprit maak nie. Hy onthou absoluut niks nie. Weer ewe verantwoordelik het hy die nommer op die deur van die huurmotor gebel. As hulle dalk ’n huurmotor kort, hier staan een voor sy deur, het hy laat weet. Wie het gesê brandewyn het nie brieke nie?
Kuierknapie Dié verhaaltjie het hom in die hof ontvou waar die kuierknapie gewaarsku, maar nie gestraf is nie.
Dis mos nou weer die tyd van die jaar waar kuier geen keer het nie. Selfs die ordentlikste onder ons het die neiging om in dié tyd oordadig, oorboord te gaan. Tog vreemd hoe die volk wat dié taal praat ’n woeste gekuier deur die jare met eufemismes, sinonieme en verkleinwoordjies probeer sagmaak het.
Oor iemand wat byvoorbeeld onbeheersd aan die suip gaan, sal ons sê dat hy ’n ‘paar drankies’ te veel geniet het. En hoekom is dit altyd ’n drankie en selfs soms ’n ou drankietjie? Of soms klink die onverkleinde Engelse ‘drink’ vir ons minder erg.
Verdoesel
Seker geen ander taal het meer versagtende sinonieme om ’n gesuip te verdoesel as iets wat geensins so erg is nie. Sekerlik het dié verskynsel sy oorsprong by mans wat vroulief wou paai. Of is dit dalk net om ons eie gewetens te ontwroeg?
Niemand is sommer summier dronk nie. Nee, hy is effe aangeskote of het te diep in die bottel gekyk. Hy loop twee rye spore omdat hy ’n klap van die wingerdstok weg het of op sy ergste is hy dalk getrek of gekletter of geklits en selfs blink omdat hy die bottel se boom gesien het of net deur die wingerd geloop het.
’n Knertsie
Dit slaan my nog altyd dronk – figuurlik natuurlik – hoekom die manne ’n knertsie gaan maak as hulle duidelik gaan bras en die vroulike wesens onder ons ’vat ’n ou wyntjie’ of geniet ’n ou drankietjie – soos in ‘aag siestog kyk die ou hondjietjie’ – terwyl dit straks die aakligste brak denkbaar kan wees.
Hoe ook al, die simpel seisoen is op ons, en suip sal baie van ons suip en soos ons voorvaders wat vir ons die siestogwoordjies uitgedink het, sal baie onder ons poepdronk word, maar niemand sal dit in soveel woorde oorvertel nie . . .
Onthou tog net, vanjaar vat hulle jou motor as hulle jou vang bestuur as jy ’n paar ou knertsies te veel in het. En nee, dit is nie waar dat hulle jou bottel vat as jy nie gekuier het voor sy bestuur nie.
Gerhard Kleijn – Desember 2004 |