Twee soorte spekskieters Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 15 November 2024 13:00
Untitled Document

Jy kry net twee soorte spekskieters. Die een is daardie ou wat willens wetens sy spek skiet terwyl aanhoorder en verteller deeglik daarvan bewus is dat hier nou spek geskiet word. Die ander, gevaarliker soort, is dié spekskieter wat sy spek as die waarheid opdis en erger nog, wat self glo hy vertel ’n reine waarheid.

Die Bronberg het deur die jare sy kwota spekskieters opgelewer en ek is bly om te kan berig dat hier vandag nog ’n paar stoet-spekskieters woon. Soos die ‘kunstenaar’ wat onlangs sy dors by Nico se drinkgat kom les het.

Sukkel
Ander kunstenaars sukkel, maar hy kan nie voorbly nie, beweer die man. En dit het alles begin met sy meesterstuk wat hy baie gepas die Groot Vyf genoem het. As jy ’n suksesvolle kunstenaar wil wees, moet jy ’n plan hê, sê Spekskieter, en sy plan was gholf.

Hy het die groot vyf van Amerikaanse PGA-gholfwenners al te pragtig op doek vasgelê. Dis nou volgens hom Gary Player, Arnold Palmer, Jack Nicklaus, Tiger Woods en nog een waarvan die naam hom nou ontglip.

Saam op die doek met die legendariese gholfmanne het hy die groot vyf van Afrika, te wete renoster, leeu, buffel, luiperd en olifant staangemaak – almal netjies op die 18e puntjie van daardie beroemde Amerikaanse gholfbaan, St Andrews, sê hy so ewe.

Soos die voorsienigheid dit toe wou hê, kom die hoofkomitee van die PGA te hore van sy meesterstuk en hulle stuur hulle Suid-Afrikaanse agent om daarna te kyk.

Kokkedore
Die agent, sê ons kunstenaar, het net een kyk gekyk en op die daad gebel om vir die kokkedore van die PGA te sê dis ’n meesterstuk. Sommer die volgende dag stuur die PGA-komitee ’n vliegtuig om kunstenaar en sy skepping te kom haal. En dis nie ’n Boeing of ’n Concord of iets nie, nee dié is te stadig. Hulle stuur een van hulle vegtersvliegtuie.

Met sy meesterstuk onder die arm is hy vort in die vegvliegtuig waar hy en die loods lekker klets so oor die oorfone. Hy sê hulle praat nog só oor Tiger Woods en Bill Bush en goed, toe sê die loods hy moet vashou, hulle gaan land.

Land
En, wil jy nou glo, hulle land toe sommer daar op die PGA se St Andrews op die fairway voor die klubhuis. Oor ’n drankie is die transaksie beklink. ’n Ooreenkoms is opgetrek wat aan die spekskieter die reg gee om 200 van die skildery se afdrukke te verkoop en met ’n sak vol dollars is hulle woerts-warts terug in Suid-Afrika. En weet jy, hy het nog net een van daai afdrukke oor en hy sal dit vir ’n winskopie aan my verkoop . . .

Koningin Liesbet het toevallig van sy talent gehoor en hom gevra om haar portret te doen. Só in haar skik was sy daarmee dat sy hom genooi het om by haar te kom kuier. Ses dae is hy soos ’n koning gepamperlang daar in Buckingham-paleis en jy kan maar gaan kyk, die portret hang ewe netjies in die voorhuis . . .

Gerhard Kleijn – Desember 2002

 

© 2025 Die/The Bronberger