Wie sou nou kon raai dat ’n
lyster ’n nagtegaal kan uitstof?
Volgens baie voëlkykentoesiaste
is die gevlekte lyster die
sangvoël wat die mooiste in die
wêreld sing. Hy is ook een van die
voëls wat die maklikste mak word,
soos menige Bronberger sal kan
getuig.
Al behoort hy aan die lyster-familie,
Turdidae, is die gevlekte lyster,
Psophocichla litsipsirupa, die enigste
spesie in sy genus. Sy spesienaam
‘litsipsirupa’ is klanknabootsend van
sy sang, ’n helder en afwisselende
fluitfrase.
Daar is vier subspesies van dié
besonderse sangers, P. l. pauciguttatus,
P. l. stierlingae, P. l. simensis en
ons eie litsipsirupa, die een wat die
verste suid voorkom.
Die voëltjie word 22-24 cm lank. Hy
het ’n penorent houding, kort stertjie,
swaar snawel en relatief lang
bene. Sy boonste vlerke is gryserig
met ’n kastaiingbruin paneel op die
vlerk wat sigbaar is in vlug. Sy
onderste dele is ’n swart-en-wit
patroon en hy het duidelike swart
gesigmerke.
Die gevlekte
lyster
Foto: Wikipedia
Die geslagte lyk eners en onvolwassenes
is naaswit gespikkel op
hul onderste dele met opvallende
wit punte aan die vlerkvere. Hul
vlekke is kleiner as dié van volwassenes.
Jy kan die volwasse gevlekte lyster
van die Natallyster onderskei deur
die afwesigheid van wit strepe op sy
vlerkvere en deur duideliker, meer
kontrasterende swart gesigmerke.
Hulle bly ook in heeltemal verskillende
habitatte. Waar die gevlekte
lyster in droë doringveld, oop breëblaarboswêreld,
parke en tuine
woon, word die Natallyster gevind
in die onderste vlak van immergroen
kuswoude.
Die gevlekte lyster se nessie is koppievormig
en word gebou met
plantmateriaal en spinnerakke wat
uitgevoer word met vere of blare.
Drie of vier eiers word gelê wat 14
tot 15 dae vat om uit te broei. Die
eiers is blouerig met ligpers en
rooibruin spikkels en vlekke. Beide
ouers help om die kleintjies groot te
maak. |