|
Oompie en sy vrou tannie Oompie was toeka die trotse eienaars van ’n plaaswinkel genaamd ‘General Dealer & Post Office’. Op die groot groen tuisgeverfde advertensiebord knap langs die Boxer advertensie het in pienk letters (hulle was aleer rooi) gepryk: ‘Probeer ons gerus vir Grouseries’. ’n Besoek aan Oompie en tannie Oompie se winkel was kinderhemel. Dit het bykans dieselfde kielielekker afwagtingsgevoel as Oukersaand op Elandsfontein wakker gemaak.
Voor die afgetrapte sementsteppies van die rooigepoetste winkelstoep was drie handpompe: een vir petrol, een vir diesel en een vir paraffien. Elk met ’n vurige, vlieënde rooi blikperd bo-op en twee sulke lang glasbottels wat om die beurt met ’n musikale ‘piengg’ van die kosbare rooi of groen vloeistof vol en leeg laat loop soos ou Kierie die handslinger heen en weer werk.
Blouseep
Rondom die pompe – veral om die dieselpomp – is die rooibruin klippiesgrond met ’n swart olierige sirkel geverf met daardie reuk wat soos niks anders in die wêreld ruik nie.
Oompie se winkel binne het geruik op blouseep met ’n smakie paraffien, twak, kunsmis, meel, leer en materiaalstof daarby ingemeng. Op die hout toonbank langs die gietyster-kasregister is ’n ry boepensbottels, elk gevul met sy eie soet bekoring, staangemaak. Jy kon kies tussen die veelkleurige ‘niekerbôls’, die rooiwang appelkooslekkers, hartjieswiets met boodskappe op, ’n string drop, ook genoem ‘liekeries’ en suurklontjies, ook bekend as k…..blits. Dié is by die vuisvol in ’n papierkardoesie gegooi en dan vir die skade op ’n staanskaaltjie gemeet.
Toweraksie
Die droë bestanddele het in sulke groot skewekop blikhouers teen een muur gestaan. Met ’n blikskoppie is die meel, suiker, rys of stampmielies uitgemeet teen soveel of sóveel per skoppie.
Op daardie einste houttoonbank was ’n koper maatstok vasgeskroef waarlangs tannie Oompie ’n rol materiaal met ’n bykanse toweraksie moeiteloos kon afrol en meet tot die verlangde hoeveelheid ‘jaartse’ vernuftig met ’n skêr afgesny word. Nie afgeknip nie maaindjoe, maar met die materiaal net so vasgeknyp tussen die skêr se twee lemme, met een beweging afgestreep.
En van die dakbalke af het rieme, swepe, tooms en halters, fietswiele en motorbande en ’n ploegskaar of wat gehang.
Sjoukys
Maar dit is in die vertoonkas (sjoukys, het tannie Oompie gesê) neffens die toonbank in die hoek, waar die werklike skatte verskuil gelê het. Daar, netjies uitgestal op groen fluweel, het die Joseph Roger’s en ander mindere knipmesse gelê. Hiervan was die Okapi-mes die gewildste verkoper en ook die oorsaak van die meeste naweekongevalle in die omgewing. Horlosies was in drie afdelings gerangskik: Zobo sakhorlosies, Westclocks wekkers en Climax polshorlosies – soos die windpomp.
In Oompie en tannie Oompie se ‘sjoukys’ kon jy ook ‘Baaisiekel’ speelkaarte gestapel sien lê. Die Zippo sigaretaanstekers het almal ‘laaiters’ genoem en hulle was destyds nog goedkoop genoeg vir ’n stout kind om dit te kon bekostig, maar Oompie het sy voet dwars gesit en hy wou ook nie glo dat jy die pakkie tien Texan vir jou oom wou aankoop nie.
Op ’n ander ‘sjoukysrak’ was blink kettinkies en ringetjies van alle soorte en oorbelle en borsspelde en ‘kaflienks’ en goed. Porseleinhondjies en -katjies en veelkleurige voëltjies, sout-en-peperpotjies met gesiggies het op ’n ander rak gepronk. En ’n gesigbierbeker van ’n kwaai oom met ’n plat hoed het in die hoek gestaan.
Ai, die dae . . .
Gerhard Kleijn, Oktober 2002
|