Twee verlore Duitse herdershonde is 36 km van die huis af opgespoor danksy ’n gemeenskap wat saamgestaan het en ’n barmhartige Samaritaan wat nie gehuiwer het om te help nie.
Karel Bredenkamp bly op ’n plaas buite Cullinan en twee van sy reuns, Charlie en Harvey, het die Donderdagnag van 19 September spoorloos verdwyn. Karel het die hele Vrydag na dié twee gesoek en toe hy weer sien, help die gemeenskap hom – daar word oor en weer gebel en boodskappe word op gemeenskapsgroepe gedeel.

Karel Bredenkamp, links, en Mario Lamprecht, regs
Foto’s: Verskaf
Laatmiddag die Vrydag sien Mario Lamprecht, wat by Rooikoppies Melkery werk, twee honde in die veld toe hy op pad huis toe is. Hy neem ’n foto en plaas dit op die Rooikopjes WhatsApp-groep. Eers toe hy reeds by die huis is, hoor hy dat die honde se eienaar opgespoor is.
 Die foto wat Mario op die Rooikopjes-groep geplaas het
Mario het die 10 km terug na waar hy die honde langs die Forfarpad gesien het, gery. Hy het hulle weer gevind en op sy bakkie gelaai terwyl hy vir Karel gewag het.
 Charlie en Harvey toe hulle die Vrydagnag doodmoeg by die huis aangekom het
“Ek is so dankbaar vir hoe die gemeenskap saamgewerk het,” sê Karel. “En veral dankbaar oor Mario. As dit nie vir hom was nie . . . ek wil nie eers daaraan dink nie. My honde is soos my kinders.”
|