Gebied groet geliefde Eddie Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 September 2024 08:00
Untitled Document

Eddie Bekker, ’n geliefde inwoner van die Rayton-distrik, is op 14 Augustus in die ouderdom van 69 jaar en 11 maande oorlede. Edward Brown Sarel Bekker is op 26 September 1954 gebore en word onthou vir die vreugde wat hy so vrygewig met ander gedeel het.

Theunetta Schubert, eienaar van Die Hoek op Kaalfontein skryf: “Eddie Bekker, nie een van ons, jou vriende, het verwag om die woorde te hoor dat jy nie meer by ons is nie. Dit was ’n geweldige skok. Ons is dankbaar dat jy nie meer pyn het nie, maar ons gaan jou ongelooflik baie mis! Ieder en elk van ons. Jy was vir ons almal baie spesiaal, en die trane sal nog lank oor jou vloei.”


Eddie Bekker aan die stuur van sake by die karaoke
Foto’s: Verskaf

Eddie was bekend as iemand wat altyd gelag het en altyd positiwiteit uitgestraal het, maak nie saak hoe sleg dinge gegaan het nie. Hy was diep betrokke by liefdadigheidsprojekte en het graag kospakkies uitgedeel. Hy het ’n besondere liefde vir kinders gehad en het dikwels as raadgewer en sielkundige vir oud en jonk opgetree. Eddie het selfs die eer gehad om ’n geliefde vriend se begrafnis te lei.

“Hy sal onthou word vir sy liefde vir sy Skepper, sy vriende, musiek, kitaarspeel en natuurlik sy passie vir karaoke en sy liefde vir ’n Tequila’tjie of ’n Jaggie. Mense het van heinde en verre gekom om saam met hom te sing en hy het altyd moed ingepraat en raad gegee oor hoe om te sing,” het Theunetta gesê.


Só het Eddie Bekker gesing

Eddie was vir 25 jaar betrokke by Die Hoek, waar hy eers as kroegman gewerk het en later die karaoke begin aanbied het. “Eddie, jy sal nooit weet hoeveel mense vir jou omgegee het nie. Mag jy in vrede rus totdat ons mekaar weer sien,” sê Theunetta.

Dominee Johan Smit het die gedenkdiens op 23 Augustus vanuit die Premiermyn Hervormde Kerk op Cullinan waargeneem. Ná die diens het mense by Die Hoek bymekaargekom om Eddie se lewe te vier.

 

© 2024 Die/The Bronberger