Boschkop-inwoners is warm onder die kraag oor maandelange rommelstorting op die hoek van die Groenpad en Boschkoppad langs Boschkop Primary School. Hulle sê dat dié storting ’n negatiewe impak op die omgewing en mense se gesondheid het en dat plaasdiere, wat plastiek ingekry het, reeds gevrek het.
Soms beland die rommel binne-in die pad
Marilis Pieters sê dat sy sedert Maart verskeie e-posse met klagtes en foto’s van die rommelstorting na die munisipaliteit gestuur het en dat dit telkens net na ’n volgende amptenaar aangestuur word. “As die munisipaliteit vroeg genoeg ingetree het, sou die saak nie so buite beheer geraak het nie,” sê sy.
Die hoek waar die storting plaasvind val sedert 2021 in wyk 102. Raadslid vir dié wyk, Vusi E Mabena, het aan Die Bronberger gesê dat hy die storting walglik vind en hulpeloos in dié situasie voel. Hy sê dat hy dit met die skoolhoof van Boschkop Primary School bespreek het en dat dit ’n geweldige moeilike probleem is om as raadslid en skool te polisieer. Vusi het die klagtes na nog ’n klomp munisipale amptenare aangestuur.
Die bourommel langs die pad
Marilis noem dat boorgatwater dié landelike Boschkop-gebied se enigste bron van drinkwater is. Sy sê dat die rommel wat gestort word, ’n veiligheidsrisiko is omdat chemiese stowwe in die grond opgeneem word en in waterbronne kan beland.
Hope bourommel ontsier die gebied
Volgens Marilis waai die wind plastiek vanaf die rommelhope in weivelde in en vrek beeste en skape wat die plastiek inkry. Wilde diere word ook geraak en kleiner diertjies en voëls kan in toue en draad verstrengel raak.
Marilis sê dat rommel vlambaar kan wees omdat die kombinasie van verskeie soorte afval brandbare gasse kan vrylaat wat veldbrande kan veroorsaak. Dié storting gebeur onder ’n Eskom-kraglyn en langs ’n laerskool.
Een van die hope van naderby bekyk
Foto’s: Marilis Pieters
Inwoners het altyd in dié gebied fiets- en perdgery. Marilis sê dat dit ’n pragtige natuurlike veld was wat nou met plastiek en bourommel gevul is – reg by die ingang na die Boschkop-kleinhoewes. Sy sê dat dit ’n direkte negatiewe invloed op eiendomswaarde het.
“Ons straat het al probeer skoonmaak, maar dit is soos om teen ’n muur vas te loop. Dit is so ’n mooi omgewing vir fietsryers en is ’n slegte indruk vir almal se ondernemings as die ingang na ons omgewing so lyk.” |