Akademia se nuwe kampus-ontwikkelingsprojek langs die Boschkoppad op Mooiplaats is in Augustus bekendgestel. Bouwerk sal na verwagting in Januarie 2026 begin en die plan is om die eerste studente in Januarie 2028 in te neem.
Dié kampus sal vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en 1 500 nagraadse studente voorsiening maak. Vier mans- en vrouekoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves.
Voorgestelde landskap-argitektuur
Bron: Skermgreep van video; Akademia-kampus – argiteksvoorstelling
Akademia is ’n private Suid-Afrikaanse verskaffer van hoëronderwys in Afrikaans. Dit vorm deel van die Solidariteit-beweging en is in 2011 gestig. Marthinus Visser is die besturende direkteur.
Die kampus-projek gaan die volgende insluit: lesingsale, ’n ouditorium, kapel, laboratoriums, kantoorblokke, navorsingslokale, ’n biblioteek, studentesentrum, koshuise, personeelverblyf, restaurante, ’n kafeteria, koffiewinkels, sportfasiliteite vir atletiek, rugby, krieket, hokkie, netbal, swem en binnenshuise sportsoorte. ’n Proefplaas vir die fakulteite van landbou en natuurwetenskappe word ook beplan.
Só gaan dit op kampus lyk
Bron: Skermgreep van video; Akademia-kampus – argiteksvoorstelling
Geskiedenis
In Mei 2022 het Die Bronberger berig dat ’n grondontwikkelingsgebied dorpsbeplanningaansoek en omgewingsimpakevaluering voorheen vir ’n beoogde plek van hoër onderwys langs die Boschkoppad, naby die Boschkop-polisiestasie, ingedien is. Die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO) het reeds op 25 Julie 2011 ’n omgewingsmagtiging aan die grondeienaar, Platinum Mile Investments 542 (Edms) Bpk, toegeken.
Dié magtiging het egter in 2016 verval sonder dat ontwikkeling begin is. Die applikant het toe gemeen dat daar ’n gebrek aan paaie is om die toenemende verkeer oos van Solomon Mahlangurylaan te hanteer.
Adéle Drake van Bokamoso Landskapsargitekte en Omgewingskonsultante het destyds gesê dat die aanvanklike aansoek teruggetrek is omdat die aansoektydbeperking verstreke geraak het terwyl Bokamoso vir bevestiging van dienste gewag het. Die aansoek-proses is in April 2022 weer aan die gang gesit, het sy gesê.
Studente op Mooiplaats, waar die kampus gebou gaan word, met die Bronberg in die agtergrond
Foto: Akademia
Paaie
In Bokamoso se destydse studie is genoem dat dit nodig sal wees om GDLLO se toestemming te kry vir opgradering van provinsiale en nasionale paaie en ook vir die nuwe toegangspad tot die gebied.
Die Bronberger het in Maart 2021 berig dat Mike Strange, wat toe raadslid vir wyk 101 was, gesê het dat Solidariteit, in hulle aansoek om ’n ‘plek van hoër onderwys’ te ontwikkel, aangebied het om die T-aansluiting van die Boschkoppad en Grahamweg (Lynnwoodwegverlenging of die M6) op te gradeer as deel van hulle infrastruktuur-bydrae.
Mike het destyds gesê dat die opgradering van dié T-aansluiting na raming ongeveer ’n miljoen rand sal kos omdat die pad herontwerp moet word. Die aansluiting is glo op die verkeerde plek en moet eintlik ’n entjie wes in Grahamweg wees om deel van die beplande K54-roete te vorm.
Die omvang van die projek
Bron: Skermgreep van video; Akademia-kampus – argiteksvoorstelling
Studie
Bokamoso se studie toon dat die Boschkoppad in ’n suid-suidoostelike tot noord-noordwestelike rigting parallel met die kampus-ontwikkelingsgebied loop, ongeveer 500 meter vanaf die gebied se oostelike grens. Grahamweg loop in ’n suid-suidoostelike tot noord-noordwestelike rigting ongeveer 1,5 km vanaf die ontwikkelingsgebied se westelike grens.
Toegang tot die ontwikkelingsgebied is tans vanaf die Boschkoppad. Die roete van die onlangs goedgekeurde PWV17-deurpad sal die Boschkoppad ongeveer 2,5 km noord-wes van die studiegebied kruis.
Die roete van die voorgestelde K147 (’n provinsiale pad) raak die noordelike stuk van die studiegebied. Beide die PWV17-deurpad en voorgestelde K147, sal in ’n noord-suid rigting in die noorde van die studiegebied loop.
Die Mooiplaats-eiendom waar die kampus gebou gaan word
Bron: Skermgreep van video; Dirk Hermann
Finansier
Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton is die finansierder van die Akademia-kampus. Die beplanning en strukturering van die maatskappy is in samewerking met Pallidus gedoen, ’n instansie wat in korporatiewe finansiële advies, beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur spesialiseer.
Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, het gesê dat die kampusprojek die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap is en ’n groot historiese keerpunt is om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker.
Kanton het die grond op Mooiplaats aangekoop, al die voorbereiding gedoen en goedkeuring gekry om dit te laat ontwikkel. Kanton het tot dusver alles self befonds, maar om fase een, wat omtrent R1,8 miljard gaan kos, te finansier sal hulle in die volgende jaar die nodige fondse werf deur welvarende mense te nader. Lede van die gemeenskap gaan ook die kans kry om in dié Toekomsbouer-veldtog te belê. Volgens Henk sal die hele projek na raming R3 miljard kos. |