Esmé Meyer van Murrayfield:
Ek kan nie die heuglike dag van my eerste ontdekking van die Bronnie onthou nie. Ek onthou wel hoe daardie eerste lees van ‘Toeka se dae’ amper letterlik my siel my ruggraat regop laat pluk het. Op aandag, penorent, net daar.
Wie is hierdie Sherlock Holmes van die verlede? Gaan daar in die volgende uitgawe nog daarvan wees? Ai, en wás daar! Hoe spreek ’n mens jou waardering uit? Oor tyd het ek ontdek dat net mooi almal so voel.
Dit was egter nie al opgewondenheid nie. Elke brokkie op elke bladsy was verslind, en is steeds. Van artikel tot nuushappie tot oog-oopmakende kontrei-advertensie het mens verryk en aansienlik ‘wyser’ gelaat.
Weens my eens onwetende verliese van jare se nie-besef van die Bronnie se bestaan nie, het ek met die lees van die versoek rondom volgende maand se herdenkingsuitgawe van 22 jaar, vir wat ons graag sal wil sien, dadelik geweet wat die hart begeer.
Terugblik! Wat is die kanse vir so ’n bladsy of twee, drie vanaf feesuitgawe September 2024 om elke maand daardie konneksie te maak met die ooreenstemmende uitgawe vanaf daardie eerste Bronnie in 2002, met sy klein voorblad daarby geplaas vir die sien, en ’n paar stukkies artikels van gebeure, kontrei, nuus, dit wat vir die redaksie spesiaal was?
Die Bronnie was ryk van die begin af, en wie nie misgeloop het nie, gelukkige lesers, het beslis al vergeet (die gawe ingeboude rede waarom ’n mens goeie boeke oor en oor kan lees. Jy moet die woorde weer sien om die feite en die beelde van dit wat met soveel sorg op papier neergesit is, weer te kan ervaar).
Wat nog sal ek wil sien? Dalk die nostalgie rondom mense, instansies, inisiatiewe van elke uitgawe ook, as dit moontlik sou kon wees om op te volg waar van hulle nou staan en nou doen en is.
Kindertjies op die voorblad, in die tydskrif, mense, besighede, beredderings; wat het in 22 jaar in die Bronbergse area gebeur?
Want een ding van ouer en wyser word, is dat ons al sterker besef hoe kosbaar dit is, wat was. En boonop, dit wat gegroei en geblom het. |