Tierpoorters wil ’pretpark’–konstruksie tot halt roep Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 19 August 2024 10:00
Untitled Document

Meer as 100 besorgde inwoners van Tierpoort en Bashewa het op 1 Augustus oor die ‘pretpark’-ontwikkeling op plot 42, Tierpoort vergader. Hulle wil hê dat konstruksie tot halt geroep moet word tot hulle bewyse kan sien dat die nodige toestemmings verleen is en ’n openbare deelnameproses voltooi is.

Dié 8,4 hektaar kleinhoewe is in Februarie aan Ricky Gold Group Holdings, ’n Sjinese onderneming, verkoop. Volgens die boukontrakteur, Gary Shi, word die projek uit Sjina bestuur en is aansoeke vir eetplekke, ’n buitelugmark, veiligheid- en padtekens aan Tshwane gerig en is nog hangende. Intussen gaan hulle voort met konstruksie en beoog om in Desember oop te maak.


Die ligging van plot 42, Tierpoort

Woordvoerder vir die Tshwane-metroraad, Lindela Mashigo, het gesê dat die metro nog geen aansoek vir so ’n ontwikkeling of vir hersonering van die grond ontvang het nie. Daar is ook nie goedkeuring verleen dat dié landbougrond vir kommersiële doeleindes gebruik mag word nie.

Inwoners sê dat ’n basiese omgewingsimpakstudie verwelkom sal word. In so ’n studie se verslag sal spesialiste se bevindings oor die impak van dié ontwikkeling op die omgewing en biodiversiteit bekend gemaak word sodat belanghebbende partye daarop kan kommentaar lewer.


Strukture word opgerig

So ’n verslag sal moet wys hoe riool hanteer gaan word as honderde besoekers in ’n gebied sonder ’n munisipale rioolstelsel opdaag, watter watervolumes gebruik gaan word en hoe die gebruik, opberging en afloop daarvan by die vereistes van die Waterwet gaan inpas.

By die vergadering het Gary gesê dat hulle ’n speelpark vir kinders bou en nie noodwendig ’n waterpark nie. Hy het gesê dat water aangery gaan word. In dié hoewegebied is inwoners van boorgatwater afhanklik en sou die ondergrondse watertafel daal, sal almal se boorgatpompe in die lug hang.


Konstruksie op 7 Augustus

’n Omgewingsimpakstudie sal ook moet wys hoe die ontwikkeling se terreinuitleg en bouplanne lyk, wat in terme van ’n restaurant beplan word, watter ure die park bedryf gaan word en hoe vullis verwyder gaan word.

Inwoners is veral besorgd oor veiligheidskwessies en toegang tot die perseel, wat op ’n moeilike plek uit Garstfonteinweg-verlenging verkry moet word. Daar is gereeld ongelukke op dié pad en die owerhede sou ’n verkeersimpakstudie vir so ’n ontwikkeling vereis het en ook dat ’n ekstra baan gebou moet word om veilige verbyverkeer toe te laat, soos by Grootfontein-landgoed en die nuwe Mooikloof Megastad-ontwikkeling se ingange vereis is. Garstfonteinweg-verlenging het nie ’n noodbaan (geel strepe) nie, wat dit ekstra gevaarlik maak.


Uitgrawings en nog ’n struktuur op die perseel
Foto’s: Verskaf

By die vergadering het inwoners ’n petisie onderteken en klagtevorms gekry wat by die Tshwane-metroraad, die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling en by die Departement van Water en Sanitasie ingegee kan word.

Teen die Bronnie se saktyd het konstruksie op die perseel steeds voortgegaan.

 

© 2024 Die/The Bronberger