Befaamde huishoudkunde–kenner hou toe nooit self huis nie Print E-mail
News - Mymerkos
Monday, 19 August 2024 10:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

Jeanette Corbet van Duyn, wat later die bekende mevrou HM Slade sou word, was een van die eerste meisies in die land om op die ouderdom van 18 jaar ’n voltydse kantoorwerk te hê. Haar werk is deur generaal Louis Botha, wat toe minister van landbou was, raakgesien en sy is oorsee gestuur om te gaan studeer.

Jeanette is in 1885 op Porterville in die Kaapkolonie as die oudste van agt kinders van ’n Hollandse pa en Engelssprekende ma gebore. Die gesin se enigste inkomste was haar ma se karige salaris as onderwyseres.

Ná die dood van hulle ouers, het die Van Duyn-kinders hulle sonder ’n inkomste in Pretoria bevind en Jeanette, as die oudste, moes dringend ’n werk kry om na die jonger kinders om te sien.

Toe generaal Louis Botha haar raakgesien het, was sy die redakteur van die ‘Transvaal Agricultural Journal’ se assistent, ’n posisie wat sy sedert 1903 beklee het. Sy het ’n rubriek vir dié joernaal geskryf, gemik op vrouens in die landelike gebied.

Generaal Louis Botha moes eers die parlement oortuig om Jeanette Kanada toe te stuur om by die MacDonald College in Quebec huishoudkunde te gaan studeer. Daar was glo ’n hewige debat hieroor en iemand het gevra hoekom daar so baie geld op dié meisie spandeer moet word. Kan haar ma haar dan nie leer hoe om te kook nie?


Jeanette by kombuispersoneel in die SAS-eetsalon, Tipe A-22, nr. 158 in 1936
Bron: drisa.co.za

Toere
Jeanette het van 1909 tot 1911 in Kanada studeer. Terug tuis is sy in 1911 deur die departement van landbou as ’n regeringsdosent en instrukteur in huishoudkunde aangestel. Deel van haar werk was om demonstrasie-toere dwarsoor die land te doen. Dié is in ’n trein, wat deur die regering verskaf is en spesiaal vir demonstrasies ingerig is, gedoen. Daar was ’n volledig toegeruste kombuis en die kant van dié kompartement kon afslaan sodat Jeanette groot skares vrouens in bykans elke dorp van die land kon opvoed.

Dié departement het Jeanette gebruik om voedsel, waarvan daar in ’n betrokke jaar te veel geproduseer is, te bevorder. So was daar in 1929 ’n groot oorskot eiers en sy het duisende kilometers afgelê om vrouens te wys hoe om eiers op verskillende maniere voor te berei en het ’n boekie, ‘100 Novel Ways of cooking eggs and young table birds’, gepubliseer.


Jeanette C Van Duyn, 'Canning, preserving, pickling and fruit desserts’
Bron: archive.org

Boek
Jeanette het haar ‘Household Science Cookery Book’, gebaseer op haar destydse rubrieke in die ‘Transvaal Agricultural Journal’, in 1914 gepubliseer. Die eerste uitgawe van 300 bladsye het ses jaar later na 600 bladsye verdubbel. In 1936 het die sesde uitgawe die lig gesien onder ’n nuwe naam, ‘Mrs Slade’s South African Cookery Book’. Die boek het tot die laat 1950’s onder dié naam verskyn. Tussendeur het Jeanette ’n reeks boeke oor preservering, inmaak, die maak van soetgoed, koeke en ander resepteboeke gepubliseer.


Demonstrasies uit ‘The Household Science Cookery Book’ se vyfde uitgawe in 1929
Bron: bobshop.co.za

Trou
Sy het op 14 Desember 1916 met Herbert Mabin Slade, ’n Engelse prokureur wat sy vrou se produktiewe loopbaan ondersteun het, getrou. Twee dogters is gebore, in 1920 en 1922. Herbert se suster, May Slade, het na hulle dogters omgesien en, ironies genoeg, hulle huishouding behartig omdat Jeanette gereeld op toer was.

Sy het nie net plaaslike opvoedkundige toere gedoen nie, maar het ook oorsee by uitstallings gewerk, soos toe sy in 1924 en 1925 Engeland toe was om Suid-Afrikaanse lemoene by die Britse Ryk-uitstalling in Londen te bevorder. In die 1930’s is daar begin om haar demonstrasies te verfilm.


‘Mrs Slade’s South African Cookery Book’, 1948
Bron: blankbooks.co.za

Tydskrif
In 1935 het sy die tydskrif, ‘Mrs Slade’s South African Good Housekeeping’, begin en was die redakteur daarvan. Daar was artikels oor kos, resepte, wenke vir kleremaak, gasvryheid, tuisteskepping, die behandeling van kwale en ’n handelsgids.

Jeanette het lesings by vroue-organisasies aangebied, was die organiserende sekretaresse van die Unie Huishoudkundige Wetenskapkongres, ’n lid van die Pretoriase Vroue Koöperatiewe Tuisnywerhede en die Pretoriase Buiteklub. Sy was ’n stigterslid van die Transvaalse Tuisnywerheid-beweging, wat in verbintenis met die Vroue Instituut in Europa en Amerika was.

In die Tweede Wêreldoorlog het sy die rol van kaptein gespeel en die opleiding van sjefs in die Suid-Afrikaanse Weermag behartig. Jeanette is in 1959 oorlede.


Braamfontein, Johannesburg, 1936. Jeanette en sjefs van die Suid-Afrikaanse Spoorweë se eetsalon
Bron: drisa.co.za

Vye-nagereg
Ons gebruik een van die kort reseppies uit haar boek, ‘Canning, preserving, pickling and fruit desserts’(1921) vir ’n delikate vye-nagereg. Dié is ’n maklike manier om ’n heerlike nagereg binne ’n japtrap saam te slaan.


Nog ’n demonstrasie in 'Canning, preserving, pickling and fruit desserts’
Bron: archive.org

Bestanddele
’n Koppie vol styf geklitste room / een eetlepel strooisuiker / ’n halwe koppie neute / ’n bietjie opgekapte ingelegde vye.


Foto’s van pynappelspons, lemoen-room en perske Charlotte in 'Canning, preserving, pickling
and fruit desserts’
Bron: archive.org

Metode
Bedien in lang glase waarin jy vooraf beskuitjies (wat sy ‘lady-fingers’ noem) of snye sponskoek, geplaas het. Versier met ’n paar versuikerde kersies. Dié nagereg kan binne ’n paar oomblikke gemaak word en moet so koud as moontlik bedien word.

 

© 2024 Die/The Bronberger