Verdagte in Louwsbaken–plaasmoord gou in hegtenis geneem Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 19 August 2024 10:00
Untitled Document

Die Cullinan-gemeenskap het op 5 Augustus ’n protes teen die borgtogaansoek van ’n moordverdagte voor die Cullinanse Landdroshof gehou. Dié 35-jarige man is op 24 Julie in hegtenis geneem in verband met die moord op Dirk Kritzinger (81) en die aanval op sy vrou, Sarie (77).

Dirk en Sarie is op 20 Julie op hulle kleinhoewe op Louwsbaken buite Cullinan aangeval. Hulle dogter het onraad vermoed toe haar ouers daardie Saterdag nie hulle fone geantwoord het nie. Sy het ’n vriend gevra om na haar ouers se huis te ry waar hy ’n ernstig beseerde Sarie en Dirk se liggaam in ’n plas bloed gevind het. Dirk het aansienlike kopbeserings gehad.


Dirk Kritzinger


Sarie Kritzinger

Karen Yssel, voorsitter van die Cullinanse Gemeenskappolisiëringsforum (GPF), was self op die toneel en sê dat alle dienste vinnig opgedaag het, van die polisie, die K9 honde-eenheid en forensiese span tot ambulansdienste, wat Sarie hospitaal toe geneem het. Karen het die Cullinan GPF Gemeenskap in Blou-patrolleerders, wat ook op die toneel bystand verleen het, bedank.

Polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Johan van Dyk, het gesê dat ’n taakspan, bestaande uit speurders en ander lede van die Cullinan-polisie, saamgestel is om die saak te ondersoek. Inligting is van die gemeenskap ontvang en die taakspan is na die verdagte se woning in die Marikana-informele nedersetting naby Cullinan gelei. Eiendom en ’n vuurwapen, wat glo aan Dirk behoort het, is in die verdagte se woning gevind.


‘Hou op om ons boere dood te maak,’ lees die banier

Hy is in hegtenis geneem en het in die Cullinanse Landdroshof verskyn op aanklag van moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisroof en die besit van goedere wat vermoedelik gesteel is. Die borgtogaansoek is na 12 Augustus uitgestel en die verdagte het in aanhouding gebly.

Die Kritzingers se twee honde is erg getraumatiseer deur die aanval. Wet Nose Diereskuiling het na een van die honde omgesien, maar die ander hond, Leah, het in die chaos weggeraak. ’n Groot soektog na Leah is op tou gesit en Wet Nose het later berig dat Leah gevind is en ook veilig gehou word.


Die protes voor die Cullinanse Landdroshof

Teen die Bronnie se saktyd het Sarie steeds in die hospitaal aangesterk. Dirk en Sarie is nie die enigste twee mense wat die afgelope paar maande in die Cullinan-distrik aangeval en ernstig beseer is nie.

Die Cullinan GPF Gemeenskap in Blou-patrolleerders is daagliks op patrollie in die gebied en ’n nuwe plan is uitgewerk waar die hele dorp help rapporteer wanneer en waar verdagte beweging te siene is.


Die 35-jarige verdagte
Foto’s: Verskaf

Die Cullinan en Rayton-buurtwag het laat weet dat Toy Oliver op 6 Augustus oorlede is. Hy was in die hospitaal sedert die brutale aanval op hom met ’n huisroof op 30 Junie by sy woning op Cullinan.

 

© 2024 Die/The Bronberger