’n Brief uit die Bronberg Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 19 August 2024 10:00
Untitled Document

Beste neef Gielie

Ek skryf maar dié brief om vir jou te vertel hoe dit hier in die Bronberg gaan want bel kan ek nie bel nie.

Die telefoonlyne is nou al hoe lank dood en dit lyk my die ou wat dit moet regmaak ook. Ek weet nie hoe kan die spul hulleself nog Telkom noem nie, want kom, is die laaste ding wat hulle doen. Tensy hulle dit dalk op ’n ander plek op ’n ander manier doen.

Ons het mos goeie reëns in dié geweste gehad en ons is bly en dankbaar daaroor. Die ding is net dat ons paaie nie deur ons stadsraad reggemaak word nie. Lyk my niks word deur hulle reggemaak nie en dit wat nog reg was, word eerder deur hulle verkeerd gemaak.

Skeel Salie
Ou skeel Salie Swanevelder van Zwavelpoort het eergister te laat uitgeswaai vir ’n nuwe gat in die gatpad en hulle soek ou Salie, sy bakkie en sy foksterriër nou nog.

Neef, dit lyk mos vir my of die hele wêreld deesdae onderstebo is. Selfs die weer hier in die Bronberg is nie meer soos jy hom geken het nie. Die wind het anderdag so kwaai opgekom dat die rooi hennetjie dieselfde eier drie keer gelê het.

Hulle het by neef Soois ingebreek en alles wat binne in die huis was weggedra. Wel, nie heeltemal alles nie. Neef Soois sê hulle het ongelukkig sy ou skoonma se portret teen die muur gelos. Dit was presies 24 dae gelede. Die polisie het vanoggend laat weet hulle behoort teen volgende week daar te wees om vingerafdrukke te vat.

Bekruip
Jy sal nie die wêreld ken as jy hom weer moet sien nie. Die dorp het ons begin bekruip en toe ons weer sien sit hy wragtig hier onder ons neuse. Die ding werk só: Eers koop hulle ’n mooi lap aarde en bou byna oornag ’n helse muur daarom. Dan maak hulle die grensdraad bo-op die muur staan en plug hom in. Nou moet jy weet, neef Gielie, dit is nie net die veld se diere wat nie herwaarts of derwaarts ’n heenkome het nie, maar selfs die voëls is gesnoeker en moet met ’n moerse skok agterkom ’n grensdraad is nie meer sitplek nie.

Ewenwel, dan kom ’n vloot geel masjiene en ’n armie verbode immigrante aan en skop ’n ondraaglike klomp lawaai en stof binne daai mure op – dag in en dag uit. En snags raas en fuif dit en betree en besteel dit – die immigrante bedoel ek, nie die masjiene nie.

Beteer
Alles word omgedolwe en platgevee en beteer en gebeton tot daar van die natuur geen teken meer is nie. Dan stoot hulle ’n damwalletjie in die droëloop, pomp die dam vol met boorgatwater, sodat ons boorgate almal loop staan, en bou die plek vol skakelhuisies. Hulle noem die plek dan “Sparkling Waters Country Valley Nature Estate” of iets dergeliks en verkoop die skakelhuisies vir ’n waenhuis vol geld.

Hulle sê dis ontwikkeling, neef.

Jy sal jou ouers se opstal ook nie meer ken as jy eendag sou besluit om ’n slag te kom kuier nie. Jou ma en pa het getrek.

Groetnis,

Jou neef Poon

Gerhard Kleijn, April 2006

 

© 2024 Die/The Bronberger