Baie mense het al lelike stelle met ’n kraalnaboom afgetrap. Hulle word as ornamentele heining-struike aangeplant en mense besef nie dat dié uiteindelik ’n groot boom word wat giftig is en asemhalingsprobleme, erge ooginfeksie en blindheid kan veroorsaak nie.
Diegene wat ’n kraalnaboom sonder ’n beskermende bril of handskoene snoei, het al in die hospitaal beland. ’n Mens se oë begin brand, dit tas jou slymvliese aan en jy kan ’n uitslag met blasies kry as die melkerige sap op jou vel beland. As jy dit inneem, kan dit die mond, lippe en tong brand. Die plant is ook giftig vir honde, katte en perde.
’n Gekweekte plant
Kraalnaboom, Euphorbia tirucalli, is waarskynlik die ‘mode-plant’ van die dekade en is baie gewild onder landskapargitekte. Hy groei aanvanklik as ’n ruie struik met vertikale stamme in flambojante kleure wat as “brandende stokke” beskryf word. Die stamme is so dun soos potlode met ’n goue-rooi kleur wat verblyk na geel skakerings in die somer voor dit in die winter weer rooier ondertone ontwikkel.
In die begin dra die stamme klein blaartjies wat onopsigtelik is en gou afval. Die blommetjies skuil in die lente en somer agter onopvallende geel skutblare. Die vruggie of saad is klein (ongeveer 8 mm in deursnee), pienk en drielobbig met fyn haartjies.
“Brandende stokke”
Soos die plant volwassenheid bereik, word die onderste stamme dikker en growwer en kry ’n liggrys tot bruin kleur. Dié boom kan tot 10 meter hoog word.
Kraalnaboom is eens as ’n belowende bron van rubber en selfs hars en brandstof oorweeg en groot verlate plantasies is steeds op plekke in Afrika te sien. Daar is dwarsoor die wêreld sonder veel sukses pogings aangewend om dié middels uit die boom te verbou en kraalnaboom is ook al vir houtskool geoes.
Só lyk die kraalnaboom as hy groter word
Foto’s: Wikipedia
Die giftige melkerige sap is al as insekweerder gebruik en ook om visse te vergiftig – ’n beskadigde tak word in die water gegooi. Tradisionele medisyne is van dié boom gemaak vir die behandeling van sifilis, aambeie, vratte, hoes, oorpyn, senuweepyn, rumatiek, tandpyn en melaatsheid en daar is met kankerbehandelings geëksperimenteer.
Navorsing het egter bewys dat die kraalnaboom nie in kankerbehandeling werk nie, omdat dit die immuunstelsel onderdruk en die groei van gewasse kan aanmoedig, wat die ontwikkeling van sekere soorte kanker tot gevolg kan hê. |