Skandaal tien jaar later oopgevlek Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 19 August 2024 10:00
Untitled Document

Tien jaar ná die omstrede Tribe One Dinokeng mega-musiekfees buite Cullinan gekanselleer is, word daar gevra dat fondse, wat die Tshwane-metroraad aan dié fees bestee het, direk van amptenare, wat in ’n forensiese ondersoek genoem word, teruggeëis moet word.

Die Bronberger het in Oktober 2014 berig dat die fees ’n week voor die afskopdatum, ná bykans ’n jaar van beplanning, afgestel is en dat die inspuiting (finansieel en infrastruktuur-gewys) wat die fees belowe het om vir die plattelandse gebied van Cullinan, Rayton, Refilwe en sy mense te bring, uiteindelik net ’n windeier was.

Ongeveer 150 internasionale en plaaslike musikante en platejoggies sou op drie verhoë van 26 tot 28 September 2014 langs Refilwe, net buite Cullinan optree. Die organiseerders het gemeenskapsvergaderings oor die fees op Cullinan gehou en het selfs ’n reeks advertensies in Die Bronberger oor die groot fees wat sou kom, geplaas.

Daar is verwag dat 100 000 besoekers sou opdaag. Destyds is daar gesê dat slegs 4 000 kaartjies tot ’n enkele week voor die grootse gebeurtenis verkoop is. Later jare het sekere bronne gesê dat net meer as 700 kaartjies verkoop is en ander bronne dat slegs 318 kaartjies verkoop is.

Beskuldigings en verskonings, wat nie almal lekker sin gemaak het nie, is destyds heen en weer geslinger. Vir die metroraad van Tshwane het dit R65 miljoen in die water beteken. Die metroraad het berig dat daar net meer as R40 miljoen aan infrastruktuur bestee is en nog R25 miljoen aan feesreëlings en kunstenaars wat by die fees sou optree.


Die bekendstelling van die Tribe One-musiekfees op die terrein in November 2013

Die uitvoerende hoof van Rockstar 4000 en besturende direkteur van Afrika vir Sony Music Entertainment het ’n gesamentlike onderneming, genaamd TribeOne Festivals (Edms) Bpk, gestig om die fees te reël. Hulle het berig dat die fees afgelas is omdat die raad nie die infrastruktuur op die beoogde terrein buite Cullinan gereed gehad het nie. Die raad het gesê dat hulle nie geweet het dat bykans die helfte van die terrein nie aan hulle behoort het nie, maar aan die Cullinan-myn.

’n Vertroulike verslag, wat dié sake aanspreek, is aan die einde van 2023 gepubliseer. Raadslede in Stad Tshwane se munisipale openbare rekeningkomitee het teen die einde van Junie 2024 aanbeveel dat sulke onreëlmatige uitgawes in die 2023/24-boekjaar verhaal moet word. ’n Raadsopdrag is daarna aan die stadsbestuurder gegee vir verdere optrede teen die amptenare wat in forensiese ondersoeke genoem is.

’n Forensiese ondersoek hieroor is reeds in 2017 deur ’n bekende forensiese ouditeursfirma voltooi en aan die metro oorhandig. Die forensiese verslag oor wanbesteding en besteding sonder behoorlike magtiging sal om vertroulikheidsredes nie openbaar gemaak kan word nie.

Siobhan Muller, een van die stadsraadslede wat reeds tien jaar by die ondersoek na die beweerde wanbesteding rondom dié fees betrokke is, sê sy wil hê die raad moet opvolg-aksie oor die fees uitbrei. Sy glo ander betrokkenes by die reëlings van die gekanselleerde fees moet ook uitgewys word.

Siobhan het gesê dat haar kommer toegeneem het ná die fees gekanselleer is en niemand hulle geld vir die kaartjies wat glo verkoop is, terug gevra het nie. Sy sê daar was nie eers klagtes op sosiale media oor verlore kaartjies nie en sy het dit vreemd gevind. Sy sê daar was ook geen teken dat die kunstenaars wat sou optree, beswaar aangeteken het nie en dat uitstallers, wat glo by die fees sou wees, skadevergoeding geëis het nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger