Mosambieker in hof ná gru-aanval Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 19 August 2024 10:00
Untitled Document

Abido Suwet Ngove, die man wat van die gru-aanval op Grietha Opperman by Henopper Melkery op Witpoort beskuldig word, het op 2 Augustus in die Bronkhorstspruit-streekhof verskyn.

Die Bronberger het verlede maand berig dat Grietha ernstig beseer is in ’n plaasaanval op 4 Julie. Haar man, Hendrik, het gesê dat Grietha om 8:15 nm in die badkamer van hulle woning oorval is en geld van haar geëis is.

Die slaapkamer is verwoes en Grietha is rondgeruk, neergegooi, geskop en met ’n hamer aangerand. Die gesin se hond, Simson, wat by Hendrik in die melkery se kantoor was, het begin blaf en uitgestorm. Dit het die aanvaller laat vlug.

Grietha kon haar in die slaapkamer gaan toesluit en het vir Hendrik gebel. Hy het dadelik sy buurman gebel, wat twee veiligheidsgroepe geaktiveer het.


Grietha Opperman se ribbes, neus en tande is in die aanval gebreek
Foto: Verskaf

Die aanvaller het in ’n spoorwegpolisiepatrollie vasgeloop en patrollielede het hom aan die SAPD oorhandig. Met die opening van die dossier het polisiebeamptes vasgestel dat hy ’n vervalste paspoort en werkspermit het.

Die 32-jarige Abido is ’n Mosambieker wat glo onwettig in die land is. Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisroof met verswarende omstandighede en bedrog.

Hendrik Opperman het aan Die Bronberger gesê dat Abido in die hof beweer het dat hy nie Afrikaans of Engels kan praat nie. “Ek dink hy lieg, want hy het in beide tale gedreig om tannie Grietha te vermoor,” sê Hendrik.

Abido het in die hof aangevoer dat hy ’n vriend gevra het om ’n fondsinsameling namens hom van stapel te stuur sodat hy ’n regsverteenwoordiger kan betaal. Die saak is tot later vandeesmaand uitgestel en Abido bly in aanhouding.

 

© 2024 Die/The Bronberger