Oorsprong van ’giftige’ gasreuk gesoek Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 19 August 2024 10:00
Untitled Document

Inwoners van Cullinan kla al ’n geruime tyd oor mediese gevolge, soos erge hoofpyne, naarheid, duiseligheid en opgeswelde oë, weens ’n ‘giftige’ gasreuk wat sekere tye oor dele van die dorp hang. Hulle samewerking word nou gevra sodat die oorsprong en ligging van die reuk opgespoor kan word.

Die probleem word deur Tshwane se omgewingsreguleringsdienste ondersoek en inwoners word gevra om dié afdeling te bel sodra hulle van die reuk bewus word.

Inwoner Gerrie Claassen is sedert April 2023 reeds besig om klagtes oor die gasreuk by die munisipaliteit te lê. Hy het gesê dat Tshwane se veiligheidsinspekteur in April 2023 vanaf Rayton na Cullinan uitgekom het, maar dat daar ’n jaar later geen oplossing gevind is nie.

Intussen het Gerrie terugvoer van die adjunkdirekteur van Tshwane se omgewingsreguleringsdienste, Ilze Kotze, ontvang. Sy het hom op 18 Julie laat weet dat talle terreinbesoeke en waarnemings deur etlike rolspelers van die metroraad gedoen is.

Die algemene opinie is dat die kernoorsaak swak omgewingsluggehalte is weens verskeie plekke waar informele of onwettige aktiwiteite in die gebied plaasvind. Dit mag die brand van afval, wat onwettig gestort is, insluit asook die brand van bande om draad te ontbloot en die brand van kabels om koper te ontbloot.

Ilze het berig dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie en dat omgewingsreguleringsdienste steeds daaraan werk om die presiese plekke waar die aktiwiteite plaasvind en bronne van die reuk vas te stel.
Inwoners word gevra om die volgende departemente dadelik te kontak sodra hulle van die gasreuk bewus word:

TMPD Streek 5, Kliëntedienssentrum: 012-734-4144. Bel kommandant Ester Mahlangu direk: 083-308-2859.

Munisipale Gesondheidsdienste: Bel Crescentia Netshieneulu: 082-885-4923 of 012-358-6876, of Dineo Mathopa: 082-969-8481 of 012-358-7036.

Omgewingsnakoming-afdeling, Streek 5: Bel Tshepo Shubane: 083-207-6638.
Ilze het gesê dat direkte kontak met dié mense die metroraad in staat sal stel om dadelik te reageer om die presiese bronne van die reuk vas te stel terwyl die reuk nog in die lug hang. Indien daar geen antwoord is nie, stuur ’n WhatsApp of SMS na die selfoonnommers.

Pretoria-oos
Omgewingsgesondheidspraktisyns van Tshwane-metro ondersoek ook die oorsprong van gasreuke wat asemhalingsprobleme onder bejaardes en jong kinders in dele van Pretoria-oos veroorsaak.

Inwoners van Newmark-landgoed op Silver Lakes-weg, Silver Stream-landgoed en dele van Silver Lakes-landgoed het teen die einde van Junie en begin Julie berig dat dié gasreuke in die nag pla. Dit is glo so erg dat dit mense wakker maak en kinders moes verskeie kere ’n nebuliseerder gebruik om deur die nag te kom. Baie mense het glo simptome soos hoofpyne, asma, naarheid en duiseligheid ervaar en sommige mense sê dit is so erg dat hulle na alternatiewe verblyf op soek is.

 

© 2024 Die/The Bronberger