Buks Dom Boer Barnard van Elandshoek:
Dom Boer se kataklisme (algehele ommekeer) vir die dag:
Kaatjie Doringpoot se eerste dae was dae van verwaarlosing, afskeping en mishandeling. Hy was sku, honger, bang en onseker toe hy by Oubaas en Dom Boer kom woon het – wou so graag aandag kry en vertroetel word, maar was huiwerig om nader te kom.
Daardie eerste nagte het hy saggies met sy soetste, fynste stemmetjie gevra: “Miaau?” en hier van onder langs die bed af met groot, ronde, blink ogies opgekyk.
En as Dom Boer dan op die bed tik en antwoord: “Kom maar, Kaatjie,” het hy gretig op die bed gespring en tog te lekker gekry om gestreel en gevryf te word.
Kaatjie Doringpoot
Algaande het hy meer selfvertroue gekry en meer vrypostig geword.Maar nou het sake heeltemal omgedraai. As Dom Boer in die middel van die nag sedig en vroom lê en droom, beland Kaatjie plotseling en ongenooid met ’n vlieënde sprong soos die oordeelsdag op sy pens, waarna hy heen en weer oor sy vernielde ou liggaam loop, sy snoetjie in Dom Boer se gesig druk, sy neus met sy snorbaarde kielie, hom met sy voorpote knie en dan op sy bobene of kuite neerplons asof Dom Boer sy eiendom is om mee te maak soos hy wil.
En Dom Boer aanvaar maar die misbruik en marteling gelate; dankbaar dat Kaatjie vandag ’n katwaardige lewe kan geniet. En as Kaatjie uiteindelik aan die slaap raak, lyk hy tog so onskuldig en tevrede.
|