Hendrik Opperman van Witpoort:
Dankie vir die volledige berig oor die plaasaanval by ons op Witpoort by Henopper Melkery op
4 Julie. Dis absoluut puik gedoen en die hele samelewing in die verspreidingsgebied van die Bronnie het ons op die hande gedra deur die moeilike tyd wat ná die aanval gevolg het.
Ek wil die veiligheidsgroepe in ons omgewing en bure en vriende se onmiddellike aksie bedank. Dankie vir die vinnige en flinke reëlings om Netcare 911 uit te kry op die toneel om ons te kom bystaan.
Dankie ook aan die spoorwegpolisiepatrollie wat opmerksaam was om die verdagte raak te sien waar hy aan die vlug was na Kanana en aan die Welbekend-SAPD te oorhandig vir inhegtenisname.
AfriForum het ook kom berading gee vir ons op die plaas en dit is wonderlik om te sien en weet hoeveel dierbare vriende ons van oral oor het.
Grietha en Hendrik Opperman
Die saak om aansoek vir borg het by die hof op Welbekend op 17 Julie plaasgevind en die verdagte het aangedui dat hy nie aansoek doen om borg nie. Die saak is toe na die streekhof op Bronkhorstspruit op 2 Augustus verwys, waar hy voorgekom het op poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en huisroof met verswarende omstandighede op bejaardes.
Veels geluk weer met die Bronnie. Dit is en bly elke uitgawe net ’n plesier om dit van voor tot agter deur te lees met al die wonderlike artikels wat julle plaas.
Doen so voort en mag ons mekaar nog vir altyd op hoogte hou van alles wat saak maak en interessant is om te lees. |