Angie Kleijn
Pretoria het sy heel eerste mediese dokter in 1859, knap vier jaar ná die dorp se ontstaan, gekry. Dié dokter was lid van Pretoria se eerste vrymesselaars-losie, Aurora, en hy was ook bekend daarvoor dat hy in die polemiek rondom mandate, die regering se papiernote en muntstelsel betrokke was.
Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se papiergeld was buite die grense van die ZAR absoluut waardeloos en handelaars het glo begin om hulle pryse te verdubbel. So het ruilhandel langsamerhand die plek van geldhandel begin inneem.
Dr Arnoldi het in die Staatskoerant adverteer dat “geen Mandaten of Gouvernements Noten zullen worden aangenomen voor Genees-, Heel- of Verloskundige diensten, of het leveren van Medicynen”. Al sy rekenings moes in “Engelsch geld, goud of zilver” betaal word.
Bernardus Gregorius Anthonius Daniel Arnoldi
Bron: geni.com
Gebore
Bernardus Gregorius Antonius Daniel Arnoldi is op 25 November 1824 om 11 uur die oggend in Monnickendam, Noord-Holland gebore. Hy was een van ’n tweeling en sy broer se naam was verwarrend soortgelyk aan syne: Daniel Bernardus Gregorius Anthonius Arnoldi. Dié tweelingbroer is op 21 September 1829 in die ouderdom van vier jaar oorlede.
Hulle ouers was Joannes Bernardus Arnoldi (6 Desember 1798 – 12 Desember 1844), ’n stadsjirurg en vroedmeester wat met die tweeling se geboorte 25 jaar oud was, en die 26-jarige Antje Brands Arbman (15 Junie 1798 – 8 Augustus 1876). Hulle is in 1823 in Monnickendam getroud.
Dr Arnoldi se seun, Bernardus Gregorius Anthonius Daniel Arnoldi
Bron: geni.com
Joannes was die seun van Bernardus Arnoldi en Joanna, ’n nooi van den Bergh. Antje was die dogter van Daniel Danielsz Arbman en Antje Brands.
Ons dr Arnoldi het, behalwe vir sy tweelingbroer, nog ’n broer gehad wat ook na Suid-Afrika geïmmigreer het. Joannes Nicolaas Bernardusz Arnoldi is op 20 November 1826 in Monnickendam gebore. Hy is met Anna Jacobsd, ’n nooi Bakker, getroud. Sy op 9 Desember 1822 in Broek in Waterland, Noord-Holland gebore. Joannes is op 22 Januarie 1895 op Rustenburg oorlede en Anna op 15 Oktober 1904 op Nylstroom.
Dr Arnoldi se seun, Bernardus Henry Van Ketel Arnoldi
Bron: geni.com
Seil
Dit is nie duidelik of dié twee broers saam hierheen geïmmigreer het nie. Ons weet dat dr Arnoldi in Holland reeds ’n geneesheer was en dat hy op 22 April 1858 vanaf Texel, Holland met die 424 ton fregatskip Estafette na Suid-Afrika geseil het. Die skip se kaptein was AMH Rietveld.
Ten tye van sy vertrek was hy 34 jaar oud en het aangedui dat hy sonder ’n beroep is en Evangelies Luthers is. Die Estafette het op 8 Julie 1858 op Simonsbaai aangekom. Op 31 Julie het die skip na Port Natal vertrek en het op 20 Augustus 1858 in Durban aangekom.
Dr Arnoldi het hom in 1859 in Pretoria as geneesheer gevestig. In 1860 is ’n skoolkommissie vir Pretoria benoem en hy is as sekretaris gekies. Op 2 Mei 1860 is hy met Anna Francina, ’n nooi Zechner, getroud. Sy is op 10 Julie 1829 op Voorburg in Suid-Holland gebore en is op 25 Januarie 1906 op Heidelberg, Transvaal oorlede en in dié dorp se Kloof-begraafplaas begrawe.
Ampsdraers van die Aurora-losie en Kapittel in 1865. Agter: Herman Jeppe; JC Preller; OC Weeber; en Fred Jeppe. Voor: RC Green; T Rodgson; M de Vries; JR Lys; en dr BGAD Arnoldi
Bron: wikitree.com uit ‘Vrymesselary in die Ou Dae in Pretoria’
Losie
In 1862 is die Aurora vrymesselaars-losie onder die Nederlandse grondwet in Pretoria gestig. ’n Kapittel van die 18de graad was aan Aurora-losie verbonde, ’n graad wat suiwer Christelik is en waaraan slegs Christene kon behoort.
Dr Arnoldi was een van die mense wat ’n petisie onderteken het waarin ’n grondbrief aangevra is en gestuur is aan Sir Christoffel Josephus Brand, die nasionale grootmeester vir Suid-Afrika, in Kaapstad.
Die vrymesselaars se Britse Transvaal-losiekompleks op die hoek van Andries- en Vermeulenstraat, langs die Baptiste Kerk in 1908
Bron: Carol Hardijzer via Friedel Hansen
Die ander ondertekenaars was Chas. Ueckermann, Will Leathern, Will MacLaren, Martinus de Vries, Orman Carel Weeber, BJ Smithers, John Ridley, Fred Haenert, F Ueckermann, Andr. PJ Kirsten, Cornelis Moll en C Fred Kleyn.
Sir Brand het die petisie met sy aanbeveling aan die grootmeester in Den Haag, Nederland gestuur. Die grondbrief is op 22 Maart 1869 uitgereik en die losie se kleur was donkerrooi. Voor die uitreiking van die grondbrief, was dié Hollandse vrymesselaars reeds druk aan die werk.
Dr Arnoldi se pa se ‘Nationale Militie’ sertifikaat
Bron: sites-cf.mhcache.com
Grond
Hulle het ’n stuk grond op die hoek van Schoeman- en Andriesstraat gekoop, waar die eerste vrymesselaars-kompleks met ’n grasdak gebou is. Dié gebou is in September 1873 opgeknap.
In Mei 1876 het hulle ’n nuwe kompleks op die perseel gebou. Die hoeksteen is op 27 Mei 1876 deur president Francois Burgers, wat self ’n vrymesselaar was, gelê. Die volgende dag het hulle gesien dat die hoeksteen deur booswigte beskadig is. Die muntstukke en handveste wat by die hoeksteen geplaas is, was onaangeraak.
Die laaste byeenkoms in dié kompleks was rondom September 1878. ’n Donderstorm het die kompleks daarna verwoes en die Hollandse vrymesselaars was so moedeloos dat hulle nooit weer ’n nuwe kompleks gebou het nie. Dit was die tyd van die Britse anneksasie en die Transvaal-losie het reeds op 15 Januarie 1878 met aktiwiteite onder die Britse grondwet begin. Die eiendom waar die Aurora-losie hulle kompleks opgerig het, is in 1885 verkoop.
Die Britse Transvaal-losie het ’n kompleks op die hoek van Andries- en Vermeulenstraat gebou. Dié kompleks is in 1918 aan die regering verkoop en het later deel van die staatsbiblioteek geword.
Dr Arnoldi se broer, Joannes Nicolaas Bernardusz
Bron: geni.com
Huis
Dr Arnoldi het erf 322 op die noord-oostelike hoek van Kerkplein en Kerkstraat in 1864 by Jan Francois (Frans) Schutte gekoop. Dit blyk dat Joao Albasini vir die gesin huishulpe gestuur het. Op 17 Julie 1870 het dr Arnoldi ’n brief aan Joao geskryf waarin hy kla dat twee van dié meisies, Kaatje en Dammio, weggeloop het terug na die Zoutpansberg. Dr Arnoldi het vier verskalwers as vergoeding vir die verlies van die twee meisies geëis.
Hy is in 1864 ook as posmeester aangestel en in 1866 as heemraad. In 1865 het dr Arnoldi distriksgeneesheer van die Waterberg-distrik geword.
Dr Arnoldi se seun, Annè Francois Arnoldi, se graf in die Voi-begraafplaas in Kenia
Bron: Wikitree
Sommige bronne bespiegel dat hy ook ’n boukontrakteur was. In ‘Die Geskiedenis van Pretoria, 1855 – 1902’ skryf Robert Peacock dat bouery aan die Gereformeerde Kerk in Pretoria erg vertraag is “aangesien die bou-aannemer Arnoldi, vermoedelik dr Arnoldi wat ook kontrakteur was, so stadig gebou het dat die bou-kommissie later self moes help bou”.
Dié aanname is verkeerd, siende dat ander bronne die bouer as JN Arnoldi lys, waarskynlik
dr Arnoldi se broer, Joannes Nicolaas Bernardusz Arnoldi.
Bernardus Gregorius Anthonius Daniel Arnoldi en sy tweelingbroer, Daniel Bernardus Gregorius Anthonius Arnoldi, se dooprekord op 27 November 1824
Bron: wikitree.com
Seuns
Een van dr Arnoldi se seuns, majoor Anné Francois (Frans) Arnoldi, het ook bekendheid verwerf. Frans het in die Anglo-Boereoorlog onder generaal De la Rey geveg en ná die oorlog wou hy Suid-Afrika verlaat. Aanvanklik wou hy saam met ’n groot groep boere Argentinië toe gaan.
Hy en sy seun Edzard het in Augustus 1905 saam met Bon, Piet en Dirk van Breda na Kenia gereis. Hy is terug na Suid-Afrika en ten spyte van sy vrou, Johanna Adofina Grimbick (Annie), ’n nooi Bierman, se onwilligheid om die land te verlaat het die gesin op 8 Februarie 1906 vanaf die Uitkykstasie naby Middelburg na Lourenco Marques vertrek. Hulle het met ’n skip na Oos-Afrika gereis waar hulle deel van die boerepioniers in die Uasin Gishu plato geword het.
Frans was aanvoerder van die Belfield Scouts, ’n berede eenheid van die “East African Mounted Rifles”. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het ongeveer 90 boere by Frans se Arnoldi Scouts aangesluit. Hy is op 8 Desember 1915 in ’n skermutseling met die Duitsers op Maktau, Kenia dood.
’n Vroeëre foto van dr Arnoldi se broer, Joannes Nicolaas Bernardusz
Bron: geni.com
Dr Arnoldi se ander seuns was Johannes Bernardus, Frederik Casper, Bernardus Gregorius Anthonius Daniel en Bernardus Henry Van Ketel.
Vreemd genoeg is die besonderhede oor dr Arnoldi se afsterwe in 1887 en die plek waar hy begrawe is, nie te vinde nie. Sy seun met dieselfde name as hy, Bernardus Gregorius Anthonius Daniel (1864 – 1952), se graf kan in die Ermelo-begraafplaas gevind word.
Familienavorsers sê dat dr Arnoldi op Cullinan begrawe is, maar die graf in die Cullinan-begraafplaas is dié van ’n afstammeling met dieselfde naam: ’n Bernardus Gregorius Antonius Daniel Arnoldi wat in 1943 gebore is en in 1968 oorlede is. |