Grietha Opperman is in ’n plaasaanval op 4 Julie by Henopper Melkery op Witpoort wreed aangerand en ernstig beseer.
Haar man, Hendrik, sê dat Grietha “erg vermink” is toe sy om 8:15 nm in die badkamer van hulle woning oorval is en geld van haar geëis is. Hendrik het 8 nm melkery toe gegaan, waar die derde melksessie van die dag om 7 nm begin het.
“Ons het nie geld in die huis gehad nie en hy het die slaapkamer verwoes en haar rondgeruk, neergegooi, geskop en met ’n hamer aangerand. Dit het my hond, Simson, wat by my in my melkery se kantoor was, laat onraad merk en hy het aggressief begin blaf en uitgestorm,” sê Hendrik.
Hy sê dat die aanvaller gevlug het sonder om iets te neem en Grietha kon haar in die slaapkamer gaan toesluit en vir Hendrik bel. Hy het dadelik sy buurman gebel, wat twee veiligheidsgroepe geaktiveer het. Dié groepe het die ambulans laat uitkom.
Grietha en Hendrik Opperman
Foto’s: Verskaf
“Die hele gemeenskap was gou op bystand by ons. Baie dankie! Ons kon afgevoer word na Pretoria-Oos Hospitaal terwyl die aanvaller 2 km op pad na Kanana-plakkerskamp gevlug het.”
Hendrik het gesê dat die aanvaller in ’n spoorwegpolisiepatrollie vasgeloop het. Hulle het onraad gemerk toe hulle sien hoe bebloed hy is. Hy het glo gesê dat hy ’n bok geslag het. Dié patrollielede het hom aan die SAPD oorhandig.
Polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Johan van Dyk het bevestig dat die verdagte in hegtenis geneem is en dat hy op 8 Julie in die hof verskyn het. Hy sê dat die staat vir sewe dae uitstel vir verdere ondersoek gevra het en ook gereed is om borg teen te staan.
Grietha Opperman met nooddienste en polisie op die toneel
Geliefd
Hendrik en Grietha is bekende en geliefde inwoners van die Witpoort-omgewing. Hendrik se oupagrootjie, Rudolph Willem Jacobus Opperman, het hom in die 1860’s op Witpoort gevestig.
Hendrik en Grietha het mekaar op 22 Junie 1968 op Delmas ontmoet en is op 8 Augustus 1970 getroud. Hulle bly hulle lewe lank neffens Laerskool Witpoort, wat Hendrik se oupa, Flip Opperman, en die gemeenskap in 1904 begin het.
Hulle kleinkinders is al die sesde geslag op Witpoort. Eintlik die sewende geslag, want Grietha se oor-oor oupagrootjie was Hendrik se oupagrootjie se oudste broer en hulle was met twee Bronkhorst-susters getroud.
Teen die Bronnie se saktyd was Grietha nog in die hospitaal en het daar berading ontvang. Sy is van die hoësorgeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas en het verskeie wonde op haar kop en gesig. Haar neus is gebreek asook ’n paar ribbes.
Simson
Skuil
Hendrik het gesê dat die aanvaller ’n ruk gelede op ’n tydelike basis vir hulle gewerk het. Hy het help kabels span toe hulle kampe gemaak het. Ná die aanval kon hulle op CCTV-beeldmateriaal duidelik sien waar hy voor die tyd geskuil het.
Simson verdien ’n goue medalje, sê Hendrik. Dit is dié hond, wat maar skaars 20 maande oud is, wat die aanvaller op vlug laat slaan het. Simson is ’n Blumenweiler, ’n kruising tussen ’n bloedhond, Dobermann en Rottweiler.
“Ons grootste dank en lof aan die Here wat sy vleuels van beskerming oor ons uitsgesprei het en Simson gebruik het om die aanvaller af te skrik,” sê Hendrik. |