Slegs drie jaar om sake reg te stel Print E-mail
News - Artikels
Friday, 19 July 2024 08:00
Untitled Document

Stads- en streeksbeplanner, Carlien Potgieter, verduidelik hoe Stad Tshwane se nuwe wetgewing en beleide oor landbougrond en die ontwikkelings en geboue daarop, plaas- en hoewebewoners raak.

Daar is nou verskeie nuwe definisies van grondgebruike, veral op plotte en plase. Die grondgebruikbestuursverordening raak veral grondontwikkelingsaansoeke wat voor 2010, toe die voormalige munisipaliteite van Kungwini en Nokeng by Tshwane ingelyf is, in beginsel goedgekeur is.

Die Tshwane Grondgebruikbestuursverordening, 2016, is gewysig en op 24 Maart 2024 geproklameer. Die Tshwane Grondgebruikskema 2024 het op 1 Julie in werking getree en alle voormalige munisipaliteit-goedkeurings moet binne drie jaar vanaf 1 Julie 2024 reggestel word.

Die bepalings van dié subartikel is slegs van toepassing op grondontwikkelingsaansoeke wat nie aangeneem is nie en die grondgebruiksregte wat nie aan die elektroniese soneringdatabasis gekoppel is nie.

’n Aansoeker wat wil voortgaan met ’n grondontwikkelingsaansoek wat goedgekeur is, maar nie aangeneem of soos beoog gekoppel is nie, moet spesifieke inligting aan die munisipaliteit verskaf.

Beginsel
Waar voorwaardelike goedkeuring deur die eertydse munisipaliteite verleen is, maar die vereistes vir doeleindes om aan die genoemde voorwaardes te voldoen nie gespesifiseer was nie of geen verdere bepaling vereis was nie, word die goedkeuring as ’n beginselgoedkeuring beskou.

Aansoeke wat in dié subartikel beoog word, is onderhewig aan die uitreiking van ’n finale goedkeuring deur die munisipaliteit. Dié goedkeuring sal alle voorwaardes van goedkeuring, wat deur die aansoeker nagekom moet word, bevat asook enige relevante skemadokumentasie en magvoorwaardes wat ’n tydperk bepaal waarbinne daar aan die voorwaardes voldoen moet word.

Indien die eienaar of aansoeker nie die nodige inligting kan verskaf sodat die munisipaliteit dit kan nagaan nie, word die aansoek as “nie goedgekeur nie” geag en verval dit.

Enige grondontwikkelingsaansoekgoedkeuring verleen deur die eertydse munisipaliteite wat nie in werking gestel is of aangeneem is nie, sal binne drie jaar vanaf die inwerkingtreding van die nuwe subartikel verval.

Oortreding
Die gebruik van eiendom of konstruksies van geboue op eiendom wat nie aan die nuwe regulasies voldoen nie is ’n kriminele oortreding en kan tot kriminele vervolging of verhoogte eiendomsbelasting op eiendomme of boetes lei.

Verder moet alle eiendomme binne Stad Tshwane se munisipaliteit goedgekeurde bouplanne hê vir alle strukture op eiendomme en dit sluit plotte en plase in.

Ons raad is dat elke grondeienaar vasstel of hulle die nodige grondgebruiksgoedkeurings in plek het vir dit waarvoor hulle die grond gebruik, asook bouplanne vir alle strukture op hulle eiendomme, om die bogenoemde moontlike sanksies te vermy.

Die definisie van landbou in terme van die beleid oor die toekenning van grondgebruiksregte op plaasgedeeltes en landbouhoewes is: Grond en geboue wat gebruik word vir enige boerdery-aktiwiteite, die bewerking van grond vir die verbouing van gewasse en die grootmaak van diere en een woonhuis.

Gebruike
Grondgebruike wat met boerdery-aktiwiteite geassosieer word, sluit onder andere in akwakultuur, byeboerdery, voëls inteling, boerdery van beeste, bokke, hase en skape, wildboerdery, kweekhuis, verkoop en veiling van plaasdiere, marktuine, plant kwekery, plantasies, sampioenproduksie, bosbou en boorde en die verpakking van landbouprodukte op die eiendom. Sommige van die gebruike kan slegs deur’n toestemmingsgebruik of hersoneringsaansoek verkry word.

Landbou kan bykomende en ondergeskikte gebruike, soos wooneenhede vir die plaasbestuurder en werknemers, kantoor en berging, insluit. Slagplase, landbou-nywerheid, dierekosplekke, perdry-sentrums en sport- en ontspanningsterreine sal uitgesluit word.

Enige gebruike wat nie met die boegenoemde strook nie sal toestemming van die munisipaliteit nodig hê en die voorgeskrewe proses sal vir sodanige goedkeuring gevolg moet word.

Die volgende moet ook moontlik in ag geneem word vir ontwikkelings of die soort aansoeke of gebruike: ’n Omgewingsimpakstudie; Juliana Goue Mol-studie; verkeer-impakstudie; Tshwane pad meester-beplanning; voorgestelde Gautrans padnetwerke; ’n geotegniese studie; en ’n dienste impakstudie of verslae asook grootmaatdienstebydraes.

Grondeienaars moet besef dat dit tyd neem en ook redelik duur kan wees om alles uiteindelik wettig te kry. Dit is veral belangrik as die eienaars beplan om die eiendom te verkoop. Juis weens die tydsduur en onkoste van dié prosesse behoort dit vroegtydig reggestel te word.

 

© 2024 Die/The Bronberger