Betsie Steyn
Petro Joubert, ’n nuwe inwoner op Kleinfontein – oorspronklik van Standerton – besit ’n baie kosbare nalatenskap wat dateer uit die konsentrasiekamptye.
Petro se ouma, Hannie Viljoen, was in Brandfortkamp aangehou en het ’n manteltjie gedra wat gedurig afgegly het. Die beroemde Engelse vrou, Emily Hobhouse, het met ’n besoek daar dit opgemerk en háár eie borsspeld gebruik om die mantel vas te steek. Dié borsspeld het Petro, ’n kleindogter, gebore Viljoen, geërf.
Petro Joubert, links, oorhandig die borsspeld in 1998 aan Lucia van der Berg
Foto: verskaf
Ouma Hannie het met net een kind, ’n dogter, uit die kamp gekom. Petro se pa, Jan, was die eerste kind van ouma Hannie wat ná die Anglo-Boereoorlog op Marquard gebore is. Hy is later met Anna getroud en sy het op dié borsspeld in ’n laai van haar skoonmoeder afgekom. Hannie het dit toe ook vir Anna gegee, waarna dit later na Petro oorgegaan het.
Petro het dié borsspeld op 22 Mei 1998 aan Lucia van der Berg, eggenote van die stigter van Radio Pretoria, dominee Mossie, geskenk. Lucia was ook die stigter van die radiostasie se Vroue-aksiebeweging. Sy het baie replikas as aandenkings van die legendariese Emily laat maak en dié is volgens die oorspronklike borsspeld in silwer en goud gegiet. Petro self het twee, wat sy nog in haar besit het, oorgehou.
Petro met die twee borsspelde – een in goud, die ander in silwer geset
Foto: Louwrens Brits
Die borsspelde is verkoop en die merkwaardigheid daarvan is dat, met die 100-jarige herdenking van die Vrouemonument in Bloemfontein, toe twee groot busse vol vroue soontoe was, het elkeen van hulle so ’n borsspeld aangehad.
Omdat die vroue niks van hulle goed na die kamp kon neem nie, het ouma Hannie haar Bybeltjie voor in haar bors versteek. Petro het dié Bybeltjie ook vir die Vroue-aksiebeweging geskenk.
Die 89-jarige Petro wonder of Aksie-vrouekrag nog bestaan en of die oorspronklike borsspeld en Bybeltjie nog in hulle besit is. Dalk kan een van die ander stigterslede – Vlooi Kroon – dit vir haar sê. |