Dankbaarheid Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 19 July 2024 08:00
Untitled Document

Liewe leser. Hier sit jy met ’n gedrukte Bronnie in jou hande (en ’n groot aantal lesers met ’n elektroniese Bronnie op hulle rekenaar of selfoon se skerm) en wonder dalk hoe dit moontlik kan wees om die Bronnie aan te hou lees (en dit nogal gratis!) wanneer soveel koerante binnekort glad nie meer gaan bestaan nie.

In Junie het Media24, wat deur Naspers besit word, aangekondig dat hulle beplan om die gedrukte uitgawes van ‘Beeld’, ‘Rapport’, ‘City Press’, ‘Daily Sun’ en ‘Soccer Laduma’, asook die digitale uitgawes van ‘Volksblad’, ‘Die Burger Oos-Kaap’ en ‘Rapport’ te sluit.

‘Beeld’ en ‘Rapport’ sal later slegs op Netwerk24 gelees kan word. ‘Volksblad’ en ‘Die Burger Oos-Kaap’ kon nog digitaal in pdf-formaat van Netwerk24 afgelaai word, maar hulle afsonderlike identiteite gaan aanstons verlore wees omdat hulle inhoud as losstaande berigte in die groter Netwerk24 opgeneem gaan word.

Veertien oudredakteurs van Afrikaanse koerante in die Media24-stal het ’n brief aan die voorsitter van Media24 se direksie, Rachel Jafta, gestuur om hulle kommer oor dié besluite uit te spreek. Verskeie ander stemme, insluitend dié van die voorsitters van Capital Newspapers en Caxton, maak ook teen dié besluite beswaar. PEN Afrikaans sê dat wanneer nuusverslaggewing in Afrikaans slegs aanlyn en agter ’n betaalmuur beskikbaar is, dit menige Afrikaanse lesers noodwendig uitsluit. 

So, hoe kan ’n klein, heeltemal onafhanklike publikasie soos Die Bronberger steeds voortbestaan en boonop binnekort sy 22ste verjaardag vier? Daar is verskeie redes en een daarvan is dat die Bronnie ’n gemeenskapsblad is wat een maal ’n maand binne ’n baie spesifieke gemeenskap verskyn. Die dringendheid van aktuele nuus speel hier nie so ’n groot rol nie. Mense verwag deesdae om die heel jongste nuus oombliklik elektronies te kry en dit is nie ter sprake by so ’n gemeenskapsgerigte maandblad nie.

Die Bronnie doen wel verslag oor aktuele sake wat die gemeenskap raak, maar val nie soseer onder nuusmedia nie. Ons gretige lesers sien uit en is bereid om te wag vir die Bronnie se besonderse rubrieke, goed nagevorste artikels en algemene gemeenskapsinligtingsdiens met sy fokus op ’n bepaalde landelike gebied. Die lesersbriewe wat ons elke maand ontvang wys hoeveel meelewing daar uit die gemeenskap is en hoeveel erkenning daar vir die Bronnie se eiesoortige identiteit is.

Die onderskraging wat ons selfs in moeilike ekonomiese tye geniet, dien as barometer vir Bronnie-lesers se bereidwilligheid om ons adverteerders metterdaad te ondersteun. Baie, baie dankie. Ons salueer julle.

 

© 2024 Die/The Bronberger