Marqueret von Wielligh van die Bronberg-gebied:
‘Terugslae, tragedies en teleurstellings van Villieria se taalpionier–stigter’ in Die Bronberger se Mei-uitgawe: Baie dankie vir die kosbare inligting rondom GR Von Wielligh. Hy was die broer van my man se oupa, Marthinus von Wielligh. My man, HJ von Wielligh, se broer is ook Marthinus von Wielligh.
GR von Wielligh was die persoonlike landmetergeneraal van oud president Paul Kruger. Volgens ’n storie, wat ons nie weet of dit ’n voldonge feit is nie, was die grond tydens die opmeet van die Krugerwildtuin vir Paul Kruger so mooi, dat hy dit Niemandsland genoem het.
GR von Wielligh en president Paul Kruger se handtekeninge onderaan die kaart
Dit is glo nêrens opgeteken en geregistreer nie. Ons sal bly wees as die skrywer van die artikel dit kan navors. Sodoende sal ons dit by die geskiedenis kan byvoeg of weglaat.
My man sê, volgens sy oupa in Hendrina – waar GR gewoon het – se weergawe, dat die Portugese die kalk in sy oë gegooi het omrede hulle jaloers was toe GR die opmetings tussen Transvaal en Mosambiek gedoen het.
Ek heg ’n oorspronklike landmeterskaart aan wat GR von Wielligh geteken en opgemeet het. Die kaart is deur hom en president Kruger in die jaar 1889 persoonlik onderteken. Die landmeterskaarte in ons besit is 138 jaar oud en in ’n uitstekende toestand.
Weereens baie dankie. Dit is ’n kosbare nalatenskap vir ons nageslag. |