Al ooit gehoor van ’n ondergrondse
boom? Dit is blykbaar
wat die basboontjie, Elephantorrhiza
burkei, is.
Die ‘elephantorrhiza’ deel van sy
naam verwys na olifantwortel
omdat baie mense sê dat dié boom
’n reuse ondergrondse stam het en
net ’n paar dun ou takkies bogronds
wys. Met die ‘burkei’ deel van sy
naam is hy vernoem na Joseph
Burke, ’n botanikus en dierkundige
versamelaar wat van 1812 tot 1873
gelewe het.
Die reuse wortel, en veral die wortelbas,
word in stukke gekap en in
water laat lê sodat die tannien met
die water kan meng. Leer wat met
dié mengsel gelooi word, kry ’n
tipiese rooi kleur.
’n Aftreksel van die basboontjie se
wortels word tradisioneel gebruik
om diarree te behandel en as ’n
anti-braakmiddel.
Dié boom is ook gewild onder byeboere
omdat bye wat sy nektar
inkry ’n besonderse heuning met ’n
kenmerkende smaak, maak.
Sade in die basboontjie se peul
Foto: Aluka
Die basboontjie is ’n bladwisselende
boom wat ongeveer ses meter hoog
word. Hy het veeragtige blare en
dra van Oktober tot November
lekkerruik, roomkleurige blomme.
Die blomme lok hordes insekte, wat
op hulle beurt weer baie insekvretende
voëls nader lok.
Sy vrugte is ’n plat rooibruinerige
peul wat aan die boom hang van
Februarie tot Mei, selfs nadat hy sy
blare in die begin van die winter verloor
het.
Die basboontjie kom op rotsagtige
riwwe en teen berghange voor en
aard goed op ’n rotstuin as hy vol
son kry. Hy het nie ’n aggressiewe
wortelstelsel nie en hou nie daarvan
om gesnoei te word nie.
Dit is nie moeilik om ’n basboontjie
te kweek nie. Die vars sade moet
betyds uit die peule wat besig is om
bruin te word, gehaal word en in die
skadu drooggemaak word. Ná die
sade droog is, moet jy hulle weer
natmaak. Plaas in ’n houer, gooi
kookwater oor en laat oornag staan.
Basboontjie
Foto: Making the most of indigenous trees
Die sade kan dan in saailingbakke in
’n 1:1 mengsel riviersand en kompos
geplant word. Bedek die sade liggies
met ’n 5 mm laag sand en hou
klam. Hulle sal gewoonlik na 10 dae
begin ontkiem.
Plant dié saailinge uit in sakkies
as hulle die twee-blaar stadium
bereik, maar wees versigtig om nie
die wortels te beskadig nie. Die basboontjie
groei stadig, tot 500 mm ’n
jaar, maar hy kan ’n sekere hoeveelheid
ryp hanteer en is droogtebestand. |