Die tyd toe die ’sonkant van die dorp’ nog wild en romanties was Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 20 April 2024 09:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Menige leser van die Bronnie het die volwasse lewe in ’n klein woonstelletjie in Sunnyside afgeskop. Tog is dit maar eers sedert 1960 wat die meeste statige ou herehuise in dié, die tweede oudste voorstad van Pretoria, afgebreek is en woonstelblokke gebou is.

In sy kinderskoenedae was Sunnyside ’n gewilde piekniekplek vir destydse Pretorianers en is as die ‘sonkant’ van die dorp beskryf – wild en romanties. ’n Aanhaling uit S Naude se ‘Sunnyside historiese woonbuurt’ sê dit was “nog bijna geheel in natuurstaat. Hoogten met gras bedekt, groepjes mimosa’s en ander wilden bome, hier en daar een oude huizie, schilderagticht en afgezonderd gelegen – dat was al men er zag.”

Die eerste deel van die voorstad is in 1875 deur James Edward Mears, wat in 1840 vanaf Londen na Durban getrek het, uitgelê. Mearsstraat is na hom vernoem. Hy het in 1854 met Johanna Agenita Maria Raath, ’n niggie van die Voortrekker Gerrit Maritz, getrou.

Dié twee het in die 1870’s in Pretoria aangekom en James het ’n gedeelte van die plaas Elandspoort 193, wat aan Johannes Gerhardus Stephanus (Gert) Bronkhorst onder transportnommer 1390 van 1875 behoort het, gekoop. In die vroeë 1880’s het James ook ’n plaas in die Boshoff-distrik in die Vrystaat besit waar hy met perde geteel het.


Johanna Agenita Maria Raath en James Edward Mears se huweliksertifikaat
Bron: Geni.com

Mears
James en Johanna Mears het 11 kinders gehad, onder meer die bekende Boerekommandant, Walter Mears, wat ’n ‘Lint voor Verwonding’ in die Anglo-Boereoorlog ontvang het. James en Johanna is geskei en James het weer getrou al het sy familie dié huwelik nie goedgekeur nie. Hy is Engeland toe saam met sy nuwe bruid, glo om sy sakebelange te bevorder, en het vir ’n paar jaar in Europa rondgetoer.

Johanna is in 1902 in die ouderdom van 69 jaar oorlede. Toe James in 1903 terugkeer na Pretoria het hy gevind dat sy familie en vriende hom afgeskryf het. Al sy bates is verkoop om sy skuld te dek. Teen die tyd van sy dood in 1915 is hy as ’n armlastige in die Brixton-begraafplaas in Johannesburg begrawe.


Walter Mears
Bron: Geni.com

Sy seun, Boerekommandant Walter Mears, is in 1870 gebore en het op 8 Julie 1902, in die ouderdom van 31 jaar, op Pietermaritzburg met Harriet Magdalene Moodie getrou. Harriet is op
3 Januarie 1882 op Gelyenfontein, distrik Ladybrand gebore as die dogter van Thomas ‘Groot Tom’ Moodie, die trekleier van die bekende Moodie-trek na die destydse Gazaland (deel van die hedendaagse Zimbabwe).

Groot Tom is op 29 November 1839 as tweede seun van die “laird” Thomas Binjamin Moodie van Melsetter, Skotland gebore. Hy het ’n Afrikaanssprekende graanboer in die Vrystaat geword en is op 24 Augustus 1863 op Smithfield met ’n Boeremeisie getroud: Cecilia Jacomina Robbertse, gebore op 20 Junie 1842 in Somerset Oos.

Hulle dogter Harriet het besluit om Gazaland te verlaat en terug te keer na Pretoria. Teen die tyd van haar huwelik met Walter was hy ’n spekulant wat in Johannesburg gewoon het. Dié twee het agt kinders gehad. Walter is op 21 Julie 1951 in die ouderdom van 80 jaar by die Clairwood-resiesbaan in Durban oorlede.


Dié blok woonstelle is op Jan FE Celliers se erf gebou
Foto: Carolize Jansen-versameling

Uitlê
Die voorstad wat Walter se pa in 1875 uitgelê het, is in 1888 in Pretoria se munisipale gebied opgeneem en die rigting van die leiwatervore het Sunnyside se uitleg glo beïnvloed. Die meeste van die strate loop loodreg vanaf Walkerspruit.

Die eerste twee jakarandabome in Pretoria is in 1888 by die huis van Jacob Daniël Celliers by Myrtle Lodge, Celliersstraat 146 geplant. Dié tuin het later deel van die Laerskool Oost-Eind in Sunnyside gevorm en die bome is omhein om hulle te beskerm.


’n Kothuis in Sunnyside waar Lionel Phillips, kolonel Rhodes, Percy Fitzpatrick en
George Farrar aangehou is
Bron: getarchive.net

In ‘Die geskiedenis van Pretoria 1855 – 1902’ skryf Robert Peacock oor die opmeting van Sunnyside. Die gedeelte wat in 1890 opgemeet is, het 235 erwe vanaf die Apiesrivier tot by Bourkestraat en vanaf Parkstraat tot by Rissikstraat ingesluit. Muckleneuk was ook op ’n gedeelte van die oorspronklike plaas Elandspoort 193.

In 1893 het M Walker die gedeelte tussen Smithstraat tot by Klipstraat en Cross-straat, vanaf Walkerstraat oor Bereastraat uitgemeet. Die gedeelte wat landmeter Von Wielligh hier opgemeet het, was die erwe vanaf Bourkestraat tot by Klipstraat en vanaf Walkerstraat tot by Bereastraat asook die erwe tussen Mearsstraat en Mainstraat.

Eers in 1903 is die erwe vanaf Harmoniestraat tot by Mainstraat opgemeet. Walker het Sunnyside ook in 1898 vanaf Walkerspruit en Villastraat tot by Farendenstraat verder opgemeet.


Die Celliers-gesin se vuurherd in die woonstelblok se ingangsportaal
Foto: Carolize Jansen-versameling

Sunnyside
Sunnyside het ’n gesogte woonbuurt geword waar bekendes gewoon het. Met die Britse oorname van Pretoria op 5 Junie 1900, moes die digter Jan FE Celliers vir drie maande onder die vloerplanke van sy huis in Sunnyside skuil. Sy uiteindelike ontsnapping uit die dorp was danksy ’n plan wat die kappiekommando gemaak het – Jan is as ’n vrou vermom.

Toe die luik in die plankvloer 55 jaar later verwyder is, is dié woorde aan die onderkant ontdek: “Hier het ek weggekruip, Augustus 1900. Jan FE Celliers.” Dié luik word as ’n aandenking in die Jan Celliers-skool in Johannesburg bewaar.


Arcadia en Sunnyside in vervloë dae
Bron: Saartjie Klipkop

Jan se huis was in Kotzestraat 166 en het tot 1970 behoue gebly, omdat dit weens testamentêre beskikking nie verkoop kon word nie. Lank ná die Celliers-gesin daar uitgetrek het, het dit ’n kwynende bestaan as huurhuis gevoer.

In 1971 is ’n woonstelblok daar begin bou en die Genootskap Oud-Pretoria het aan die nuwe eienaars, Engel en Ruyter, voorgestel dat die woonstelle Jan Celliers genoem moet word en dat ’n gedenkplaat met die perseel se geskiedenis in die voorportaal aangebring moet word.


Generaal Christiaan Beyers in die Anglo-Boereoorlog
Foto: SPE Boshoff, ‘Vaalrivier Die Broederstroom of die Uiteinde van Generaal C.F. Beyers’

Vrede
Ná die vredesverdrag op 31 Mei 1902 onderteken is, is nuwe planne vir Pretoria begin maak. Die uitvoerende komitee van Transvaal het op 10 Julie 1902 besluit om agt erwe en twee huise in Sunnyside van sakeman Edmond Francis (Eddie) Bourke te koop vir die instelling van ’n normaalkollege. Eddie het in 1879 in Pretoria aangekom en Bourkestraat is na hom vernoem.

Die kollege is op 2 September 1902 gestig. Die eerste 39 gekwalifiseerde onderwysers wat in Transvaal opgelei is, het die Pretoriase Normaalkollege op 26 Junie 1903 verlaat. In die begin van 1933 het die kollege ’n Afrikaanstalige inrigting geword.


Die Celliers-gesin in die tuin van hulle Sunnyside-huis in 1916. Jan en Susanna sit in die middel met hulle oudste seun, Johan, staande agter. Langs hulle is hulle dogter,
Marie en die twee jonger seuns Henri en Albert
Foto: Carolize Jansen-versameling

In 1902 was die Boere geweldig verarm ná die oorlog; baie kon nie mediese sorg bekostig nie en kon nie in Pretoria se Victoria Cottage Hospitaal opgeneem word nie, omdat dit ’n Britse militêre hospitaal was.

Boeregeneraals Louis Botha, Krisjan de Wet, Koos de la Rey en Christiaan Beyers het begin skenkings soek om ’n eie Afrikaanse hospitaal te bou. ’n Hollander genaamd dr CJK van Aalst het ’n reuseskenking van 7 500 pond gemaak en later het Jan FE Celliers 1 000 pond geskenk.


C Louis Leipoldt in 1910
Foto: hekint.org

In 1904 het generaal Christiaan Beyers sy huis in Sunnyside geskenk en ’n ses-bed hospitaaltjie, genaamd ‘Het Hollands Hospetaaltje’, is daar begin. In 1912 het ’n rentevrye lening van 75 pond die hospitaaltjie in staat gestel om na die hoek van Walker- en Bergstraat te trek en sy naam het na ‘Het Zuid-Afrikaans Hospitaal en Diakonessenhuis’ verander.

In 1936 het burgemeester Eddie Bourke, 34 Muckleneuk-persele vir 3 400 pond aan die hospitaalbestuur verkoop. Dit het 20 000 pond gekos om die hospitaal te bou.


Die digter C Louis Leipoldt het op hierdie terrein gewoon wat vanaf 1920 tot 1925 sy eiendom was
Foto: noordsin.ngkerk.net

Digter
So twee jaar ná dié hospitaaltjie se naam verander het, het die mediese dokter, botanis, joernalis, skrywer, dramaturg, Hertzogpryswenner-digter, reisiger en koskenner, C Louis Leipoldt, na Suid-Afrika teruggekeer.

Dr Christian Frederik Louis Leipoldt is as hoof van die nuut gestigte mediese inspeksie van skole in Transvaal aangestel en moes in Pretoria woon. Hy het tot Oktober 1918 by sy suster Issa en haar man, die Engelse predikant Robert Pattison, gewoon. Daarna het hy vir ’n ruk in die Pretoria-klub gebly.

In November 1919 het hy ’n huis in Mearsstraat 125, Sunnyside gekoop waar sy neef, Ewald Auguste Esselen, en sy gesin die huis met hom gedeel het. Dié twee neefs was nasate van ’n Rynse sendelingfamilie. Dié perseel is vandag die tuiste van die NG Kerk se Noordelike Sinode.


Ewald Auguste Esselen in 1883/84
Bron: Wikipedia – Elliott & Fry

Ewald
Ewald het medies by die Universiteit van Edinburgh, Skotland studeer. Hy het in 1881 teruggekeer en is later as vise-president Paul Kruger se privaatsekretaris aangestel. Hy het by die Inner Temple in Londen ook as ’n advokaat gekwalifiseer en was die sekretaris van die Boere-afvaardiging by die Londense Konvensie in 1884.

In 1887 is hy as kriminele regter vir die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangestel en in 1894 as prokureur-generaal.


Jan FE Celliers se huis in Kotzestraat 166, Sunnyside
Foto:‘Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria’ No 65-71 van 1971

Ewald is in die oorlog in 1900 krygsgevange geneem, maar is toegelaat om op parool na Europa te gaan. Ná die vrede in 1902 het hy na Pretoria teruggekeer om weer as advokaat te praktiseer.

Ewald en sy gesin het later op die suid-westelike hoek van Park- en Meintjesstrate (verander na Wesselsstraat) gewoon. Esselenstraat (nou Robert Sobukwe-straat) is na hom vernoem.

 

© 2024 Die/The Bronberger