Oordeelsdag op Mosbank Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 20 April 2024 09:00
Untitled Document

Dit laat hom dink, sê oom Pottie toe ’n kar se irriterende toeteralarm met ’n hengse geskal hier buite in die parkeerplek afgaan. Aan oom Jan en tant Hansie en die vreeslike nag van die oordeelsdag, laat dit hom dink, sê oom Pottie.

Oom Jan en tant Hansie het mos destyds op Mosbank geboer en oom Jan het ’n opregte plaaswinkel bedryf. Die winkel was aan die opstal vasgebou en die waenhuis was deel van die hele sakekompleks.

Die waenhuis is ook as voorraadkamer gebruik en die sakke mielies wat oom Jan vir koffie, meel, suiker, tabak en ander noodsaaklikhede verruil het, het die plek met sy 1939 model Hubmobile gedeel, sê oom Pottie en hy vat ’n behaaglike teug aan sy gebroude bruisdrankie.

Dis of hy daardie winkel op Mosbank nog kan sien – en kan ruik. Op sy eie plekkie op die toonbank staan die rol pruimtwak, netjies om ’n houttol gedraai. Langs die tol is ’n uitgeholde broodplank en ’n ou kombuismes om die verlangde lengte pruimtwak mee af te maak.

Onder die toonbank is ’n streepsak vol suurklontjies. Geen klant sal die winkel verlaat sonder ’n pasella kardoesie uit koerantpapier gedraai met ’n aantal suurklontjies daarin nie – ’n soort van  kontantkorting, sê oom Pottie, Ek kan in sy oë sien hy is weer op Mosbank – binne in oom Jan se plaaswinkel.

Nou was oom Jan ’n groot kerkmens en ouderling op die koop toe. In die opstal op Mosbank is gereeld boeke gevat. Jy kan maar sê daardie gratis suurklontjies was oom Jan se vertolking van ‘brood op die waters,’ sê oom Pottie.

Die Hubmobile was oom Jan se trots, maar dit was meer van ’n simbool van sy sukses as ’n verbruiksartikel. Hy het sy kar en perde verkies as vervoermiddel. Die Hubmobile het maar meestal onder ’n bokseil in die waenhuis bly staan – saam met die sakke mielies, en die rotte wat deur die mielies gelok is en die werfkatte wat jag op die rotte gemaak het.

Nou is rot se kind mos ’n uitgeslape ding en gou het die gebroedsel agtergekom dat die werfkatte hulle nie kan bykom as hulle veilig onder die Hubmobile se enjinkap skuil nie.

En toe ontwikkel die rotte ’n smaak vir die pik van die battery en later begin hulle vir afwisseling aan die elektriese bedrading weglê – te lekker. Tot daardie angsvolle nag uiteindelik aanbreek, sê oom Pottie.

Hy sê die staanhorlosie in die voorkamer het pas twee slae gegee en almal in die huis slaap die slaap van die regverdiges toe die rot die laaste stukkie isolering van die Hubmobile se toeterdraad deurvreet.

En dit veroorsaak dat die toeter toe met ’n oorverdowende en aanhoudende geskal in die stilte van die nanag losbars. Oom Pottie sê die daaropvolgende gebeure is deur tant Hansie self aan hom oorvertel.

Oom Jan word wreed deur die slepende getrompetter uit sy diep slaap gewek. Hy spring regop en gryp tant Hansie aan die skouer. “Hansie my vrou, staan op! Dit het gebeur. Dis die oordeelsdag! Hoor daar hoe blaas die engele op hulle beuls en trompette!”

Tant Hansie sê sy kon duidelik ook die geskal van die trompette hoor en was oortuig daarvan dat oom Jan reg is. Oom Jan blaf ’n bevel vir tant Hansie om die seuns te loop haal en hom in die eetkamer te ontmoet.

Toe sy en die drie windverwaaide seuns, Boet, Joël en Koos, by die eetkamer inbars, sit oom Jan aan die hoof van die tafel met die Statebybel voor hom oopgeslaan. “Kom vrou, kinders. Kom sit laat ons vir oulaas boekevat,” sê oom Jan.

Dis glo toe dat die oudste seun, Boet, die deur tussen die eetkamer en die waenhuis oopmaak. Bokant die vreeslike getoet skree die knaap uit volle bors: “Nee pa, bêre die Bybel! Dis nie die engele en die oordeelsdag nie – dis die Hubmobile se toeter!”

Gerhard Kleijn – Maart 2007

 

© 2024 Die/The Bronberger