In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Hilda Gerber het gedink dat die Kaapse kookkuns sy ontstaan grootliks aan Maleise disse te danke het. Toe sy die resepte in haar kookboek, ‘Traditional cookery of the Cape Malays’, in die laat 1930’s begin navors, het die Maleise vrouens haar egter vertel dat hulle op die ou Hollandse manier kook.
Hilda se manuskrip is in 1949 voltooi, maar is eers ná haar dood op 4 Januarie 1954 tussen haar dokumente gevind. Sy was maar 50 jaar oud. Haar ander kookboeke sluit in: ‘Fish Fare for South Africans’ (1945); ‘Little Betty’s Cookery Book’ (1948); ‘Cape Cookery Old and New’ (1950); ‘With Love and a Ladle’ (1953) en ‘Sonskyn Resepteboek’, wat Hilda vir die Sitrusraad in Pretoria geredigeer het.
’n Rou kweper-sambal
Bron: gardenista.com
Gebore
Hilda, ook bekend as Hilde, is op 6 Desember 1903 in Oos-Londen in die Oos-Kaap as dogter van Jacob (Jack) Gerber en Else, ’n nooi Salomonson gebore. Sy het ’n suster Ruth en ’n broer Rolf gehad en het met dr Hans Herxheimer (14 Januarie 1898 – 29 Januarie 1959) getrou. Hulle het twee dogters gehad: Hella Ruth Weiss en Marianne Julia Rowley.
Hans het gesê dat Hilda net ná die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland was waar sy weens ernstige rantsoenering geleer het hoe om rondom voedseltekort te werk. Volgens Hans het Hilda Duitsland verlaat om van die Nazi-regering af weg te kom.
Haar spaarsamigheid het haar goed te staan gekom en in die voorwoord van Hilda se ‘Traditional cookery of the Cape Malays’ skryf dr ID du Plessis dat baie van die disse eksoties is, maar nie duur nie en dat die bestanddele maklik plaaslik bekombaar is. Die illustrasies is deur Katherine Harries.
Illustrasies deur Katherine Harries
Bron: ebay
Verdien
Vandag sê mense dat Hilda se boek toentertyd nie die erkenning gekry het wat dit verdien nie. Dit is nie net ’n versameling resepte nie, maar ’n studie van kosgewoontes en ’n omvattende opname van ’n onderwerp wat lankal te boek gestel moes word.
Hilda het geskryf dat haar taak was om ’n erfenis, wat op die punt gestaan het om verlore te raak, op te teken. “Vrouens van alle ouderdomme onthou hoe hulle voorsate seker disse gemaak het en onthou duidelik hoe hulle dit in hulle jeug geëet het.”
“Tog kan hulle self óf nie meer onthou hoe om die disse te maak nie, óf hulle gee net nie meer genoeg om nie. Vir dié rede is dit meer wenslik om ’n rekord van ou Maleise kookkuns te maak voor dit wat steeds tipies van die ou gewoontes is, vir ewig verdwyn.”
‘Traditional Cookery of the Cape Malays’
Bron: bobshop.co.za
|
‘Little Betty`s Cookery Book’
Bron: bobshop.co.za
|
Name
Hilda het die name van die vrouens by elke resep opgeteken en ook die gebied waar hulle gewoon het, wat beteken dat hulle afstammelinge hulle bydraes kan naspeur. Dié resepte is glo woordeliks soos die vrouens dit aan haar vertel het, oorgeskryf en daar is meestal nie veel aandag aan presiese afmetings gegee nie. Sy het ook verskeie weergawes van dieselfde dis opgeteken en het die oorspronklike name van die disse in Engels, Afrikaans, Indies en Maleis neergeskryf.
Daar is watertand resepte vir disse soos talle soorte kerries, bredies, mango- en ander atjar, hoenderpastei, gesmoorde vis, roti, geelrys, blatjang, sambal, gestoofde groente en ’n aantal konfyte. Hilda het gesê dat die woord ‘bredie’ oorspronklik van Madagaskar na die Kaap gebring is en bredies in haar boek sluit groente soos pampoen, blomkool, ertjies, boontjies, kool, wortels, rape, spinasie, tamaties en waterblommetjies in, maar ook eksotiese groente soos kohlrabi en postelein.
Volgens Hilda het Maleise kokke sambal verstaan as ’n gerasperde vrug of groente, veral appel, kwepers, wortels of komkommer, gesout en gegeur met asyn en rissies.
‘With Love and a Ladle’
Bron: bobshop.co.za
|
Die inhoudsopgawe van ‘With Love and a Ladle’
Bron: bobshop.co.za
|
Kweper-sambal
Resep van mev Hercules, Markstraat, Claremont:
Skil ’n kweper af en rasper dit. Voeg sout by. Stamp ’n klein stukkie knoffel en twee groen rissies in ’n vysel. Voeg dit by die gedreineerde kweper. Voeg ’n bietjie suurlemoensap by, maar geen asyn nie.
Resep van mev Miriam Gazant van Vineyardweg, Claremont:
Skil ’n kweper af en rasper dit. Voeg ’n bietjie sout by. Laat dit vir ’n rukkie staan en druk dan al die water uit. Sit die vrugtepulp in ’n klein bakkie en voeg ’n rissie en ’n bietjie rooi asyn by. Jy kan kweper-sambal saam met enige iets eet, vis of vleis, maar dit gaan veral goed saam met kerrie.
Hilde Herxheimer en dr Hans Herxheimer se grafsteen
Bron: geni.com
|
‘Sonskyn Resepteboek’
Bron: abebooks.com
|
Ingelegde vis
Mev Miriam Gazant van Vineyardweg, Claremont se resep is so gemaak:
Sny jou vis en was dit. Droog dit af en braai in olie, sonder om die stukke eers in deeg te sit.
Sny ’n redelike hoeveelheid uie op en gooi genoeg rooi asyn oor om die uie te bedek.
Voeg sout en peper, ’n rissie en ’n bietjie borrie by. Gooi ook ’n bietjie gedroogde gemmer oor.
Sit die mengsel op die vuur en laat dit stadig kook. As die skuim boontoe kom, skep dit af.
Laat die uie net een keer opkook; hulle moet ferm en kraakvars bly.
Sit ’n bietjie van die vis in ’n bak en rangskik van die uie bo-oor dit. Voeg die res van die vis en die uie by. Gooi die vloeistof oor. Party mense voeg twee tot drie lourierblare by.
Ingelegde vis
Bron: Skermgreep van video – Panana TV
|