Hou ape só weg van vrugtebome Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 20 April 2024 09:00
Untitled Document

Inwoners van Cullinan berig dat meer klein troppies blouape as ooit voorheen hulle op dié dorp tuismaak en ewe lustig in vrugteboorde en groentetuine baljaar en vreet.

Blouape is omnivore en vreet vrugte en groente maar ook insekte, klein gewerwelde diere en voëleiers en kan groot skade in tuine, boorde en landerye veroorsaak.

Die kenners sê dat ape van groente en vrugte weggehou kan word deur ’n vloeistof wat kinien, rissies of troeteldierafweerder bevat, aan te spuit. Droë kerrie, rissies of tabakpoeier kan in beddings gestrooi word. Sprinkel Jeyes Fluid binne-in en rondom asbliksakke om die ape uit te hou.

Volgens Monkey Helpline, ’n geregistreerde nie-vir-wins organisasie, is blouape nie aggressief nie en sal baie eerder vlug as aanval, behalwe as hulle vasgekeer voel. As ’n aap in jou huis of voertuig vasgekeer is, moet jy padgee en die aap toelaat om te ontsnap. Moenie jou rug op die aap draai, weghardloop of gil nie. Beweeg stadig agteruit sonder om die aap direk in die oë te kyk. Blouape dreig mekaar deur te staar.


Dié blouapie is ’n gereelde besoeker aan Cullinan se Oaklaan
Foto: Laurika van der Linde

Honde
Leer jou honde om nie die ape aan te val nie – die hond kan baie ernstig beseer word. Volgens Monkey Helpline moet ’n mens ook nooit kinders met kos toelaat in ’n gebied waar blouape bedrywig is nie.

As jy wilde voëls in jou tuin voer, moet jy dit nie elke dag op dieselfde tyd doen nie, anders gaan die ape ook by jou voëlvoerder begin wag. As die aap wel elke dag opdaag, kan jy hom met jou tuinslang spuit – iets wat ape haat. Jy kan hulle ook met ’n waterpistool of spuitbottel spuit.

Ape is baie bang vir slange, so dit is raadsaam om ’n speelgoed-slang aan te skaf. Maak ’n toutjie aan die slang vas om hom te laat ‘beweeg’. ’n Slang wat lank stillê flous die ape glad nie. Blouape is glo ook banger vir mans as vir vrouens.

Grootte
Die blouaap, voorheen Cercopithecus aethiops, is nou geherklassifiseer as Chlorocebus pygerythrus. Mannetjies word gemiddeld 115 cm lank en weeg 5,5 kg, waar wyfies slegs 105 cm lank word en gemiddeld 4,1 kg weeg.

Die kenners sê dat tropsamehang rondom ’n dominante wyfie is. Wyfies vorm ’n liniêre dominansie hiërargie waar die dogters hulle rang van hulle moeders erf. Mannetjies emigreer met die aanvang van puberteit. Hulle trek van trop tot trop, en spandeer omtrent drie jaar in ’n trop voordat hulle weer aanbeweeg.

Troppe het goed-gedefinieerde groepsgebiede met duidelike grense. Sosiale hegtheid word bevorder deur onderlinge versorging van mekaar se pelse. Dié hegte groepe het ook gemaak dat blouape ’n gekompliseerde reeks kommunikasiemaniere ontwikkel het.


’n Blouaap vreet ’n mielie wat hy in ’n groentetuin op Cullinan se Oudorp gegaps het

Geluide
Studies is gedoen wat blouape se geluide in 19 verskillende kategorieë opdeel. Die geluid se interpretasie hang ook af van of dit met ’n toe mond of met tande-wys gepaard gaan.

Daar is drie verskillende waarskuwingsroepe vir landroofdiere, slange en voëls. Hulle het geluide wat beteken kom-ons-begin-nou-beweeg, ’n wye reeks aggressie-geluide, wat elk iets anders beteken, en net so ’n wye reeks geluide wat ma en kleintjie vir mekaar maak. Kleintjies kan soos ’n kat spin as hulle gelukkig is.

Die reeks geluide gaan gepaard, of nie, met liggaam- en gebaretaal waarvan die kenners al agt afdelings onderskei het. Een van dié is stertposisie. Die posisie van die stert as ’n aap op al vier bene staan, wys hoeveel selfvertroue hy het. ’n Bang aap se stert loop parallel met die grond. Hoe hoër die stert op beweeg, hoe beter voel die aap oor homself. Die wat werklik in hulle noppies met hulself is se sterte krul heeltemal om sodat dit parallel bo-oor die lyf staan.

 

© 2024 Die/The Bronberger