Vere maak vir hom die voël Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 20 April 2024 09:00
Untitled Document

Betsie Steyn

Die 68-jarige Neels Kruger van Kleinfontein het as jong voëlboer die grootste permit in die suidelike halfrond gehad vir die 165 inheemse spesies wat hy destyds aangehou het.

Hy het as vyf-jarige seuntjie reeds by sy pa geleer van voëls. Hulle het op die plaas Tiervlei naby die Etosha in Suidwes-Afrika gewoon en sy pa het ’n permit gehad om met voëls te boer. Hulle het elke maand Pretoria toe gekom om by natuurbewaring in Wonderboom inheemse voëls te koop. “Daardie jare kon jy nog by hulle voëls koop, nou nie meer nie,” sê Neels.

Hy het sy eie hokke gehad en moes die voëls self versorg. So het Neels sy permit opgebou van die eerste 14 voëls tot 165 spesies, onder meer alle duiwe, neushoringvoëls, loeries, sysies, spreeus, houtkappers en ses spesies suikerbekkies.

As jongman het hy op Kuruman gaan bly en groot hokke van 165 m x 44 m gehad en alles was spesiale inheemse voëls. Neels het ook voëls aan Japie Horn van die Krugersdorp Natuurreservaat verkoop. Die eerste rooibekneushoringvoël wat ooit  in Suid-Afrika in gevangenskap by Neels se hokke uitgebroei het, is ook soontoe.


Neels Kruger met sy permit
Foto:  Freek Pienaar

Hoewel hy vroeër op hoë vlak met ander voëlboere – wat hoofsaaklik Amerikaanse voëls ingevoer en mee geboer het – kennis gemaak het, was sy voorliefde toe egter inheemse spesies.

Hy het die voëlhokke op Kleinfontein die afgelope ses jaar opgebou en hou net vir die liefhebbery daarvan budgies, diamantduiwe, lagduifies, papegaaie en waaiersterte aan – alles ingevoerde voëls.

Neels het nooit deur navorsing kennis opgedoen nie, net deur eie jarelange kennis en ervaring. Hy ken sy voëls goed en is dankbaar dat hulle nie vanweë muskiete pokke opdoen nie . . . hy sorg dat dit nie gebeur nie.

Neels is ’n kenner, kundige en lopende ensiklopedie as dit by inheemse voëls kom. Hy ken elkeen se geluid en gewoontes, soos die rooikophoutkapper waar twee voëls (die mannetjie én wyfie) saamspan om één kenmerkende klank voort te bring.

Hy vertel ook dat hy groot glansspreeus, neushoringvoëls, suikerbekkies en kwartels in aanhouding uitgebroei het. “Die knopieskwartel is die enige kwartel ter wêreld waar die wyfie mooier as die mannetjie is en ook waar dit die mannetjie is wat die eiers uitbroei en die eerste vyf dae die kleintjies met die bek grootmaak,” vertel hy.

“Ook interessant is dat die kwartelwyfie sewe mannetjies na mekaar vat, vier tot ses eiers in die nes lê en laat spaander. Die mannetjies doen dan al die werk om die kuikens groot te maak. Sy sorg elke keer vir sewe neste, sit die sewe mannetjies op die neste, vlieg weg en los hulle net so!”

“Min mense weet dat jou parasitiese voëls parasiteer op ander voëls se neste, soos die koningrooibekkie, pylstert, paradysvink en drie soorte swart weduwees, die diederike en mooimeisie,” sê hy.

Oor die voëls in sy hokke, sê Neels: “As ek trek, trek hulle saam – dis my kinders – en ek het nie één spesifieke een waarvan ek meer as die ander hou nie – ek hou van almal!”

 

© 2024 Die/The Bronberger