Naka, die Steenbergs van Zwavelpoort se agtjarige Rottweiler, is met ’n sertifikaat vir braafheid beloon.
Naka is 13 keer deur boewe wat in die Steenbergs se huis probeer inbreek het, gesteek. Leoni Steenberg het vertel dat die elektriese heining-alarm haar omstreeks 1.30 vm op 7 Maart wakker gelui het. Sy het Naka in ’n poel bloed op die agterstoep gevind. Hy het die boewe gekeer voor hulle by die huis kon inkom.
Die Steenbergs het Naka dadelik na Valley Farm-dierehospitaal geneem. Volgens dié hospitaal se woordvoerder, Beaulah Zeiler, het Naka se long platgeval en een van die steekwonde is met soveel krag gedoen dat die lem Naka se rib middeldeur gesny het.
Naka by sy sertifikaat vir braafheid
Foto: Valley Farm-dierehospitaal
Naka het ’n bloedoortapping ontvang en sjirurgie is gedoen. ’n Paar dae later is Naka weer geopereer en hy het in die hoë-sorg eenheid van die hospitaal aangesterk.
Beaulah sê dat Naka ’n model-pasiënt was en dat die hospitaal ’n sertifikaat vir braafheid aan hom uitgereik het voor hy huis toe is. “Hy het nuwe betekenis aan die woord ‘lojaliteit’ gegee en het met al sy mag geveg om sy mense te beskerm terwyl hy van alle kante af steekwonde opgedoen het.” |