Die sperdatum van 27 November wat Kungwini ingestel het vir diensterekeninge
se betaling volgens hulle ‘afslagskema’ is op bevel van ’n regter
uitgestel na 18 Desember.
xxx
Ou Francois sê hy het nou na al die jare vasgestel dat hy eintlik ’n perfeksionis
is. Dis dié, sê hy, dat so baie van sy pogings perfekte mislukkings is.
xxx
Gladys, die 57-jarige, troue bediende van een van die Rietfontein-bewoners
naby Rayton het een oggend ’n leer tjekboekhouer langs die grondpad
opgetel. Daar het baie strokies en betaalbewyse orals op die pad gelê en sy
het dit alles weer mooi bymekaar gesit en dit na haar werkgewer gebring
saam met die SA identiteitsboekie, bestuurslisensie, vyf vuurwapenlisensies,
13 kredietkaarte, twee mediese kaarte en ander lidmaatskapskaarte wat
nog in die houer was. Die werkgewer het gelukkig die naam van die persoon
geken en het hom geskakel. Die veehandelaar, wat ook ’n direkteur is van ’n
bekende veiligheidsmaatskappy in die ooste van Pretoria was nogal verlig
om te hoor dat dit gevind is. Hy het sy goed kom haal en dankie gesê.
Hoeveel ure sou hy gemors het as hy al sy kaarte moes stop? Inwoners voel
dit sou mooi gewees het as Gladys ’n beloning sou kon kry.
xxx
Stephanie Webber van Seedcracker Omgewingskonsultante, die maatskappy
wat die openbare deelnameproses organiseer vir die Mooiplaats kraglynprojek,
het laat weet dat daar na alternatiewe roetes gekyk word. Sy sê dat
die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging se voorstelle vir ’n alternatiewe
roete vir die kraglyn en plek waar die substasie gebou sal word,
voorrang geniet en dalk die beste opsie is. Die alternatiewe sal binnekort
openbaar gemaak word.
xxx
As jy meer oor misdaadbekamping in ons gebied wil weet, gaan besoek gerus
die volgende webtuistes: http://boschkop.co.za, Boschkop Gemeenskapsforum,
http://www.bashewa.com/forum/, Bashewa crime watch,
http://garsnet.com, Garsfontein GPF, http://conservsecurity.com, Conserv en
http://www.eblockwatch.co.za, ’n landwye virtuele kennisgewingbord.
xxx
Die koste van die Mooiplaats oorhoofse kraglyn is R4 miljoen rand per kilometer.
Dit sal R32 miljoen per kilometer kos om die kraglyn ondergronds
aan te lê. Mooiplaats inwoners wil nou weet hoekom die munisipaliteit nie
daardie miljoene gebruik om sonenergie panele aan elke huishouding te verskaf
nie. Sal dit nie goedkoper wees nie?
xxx
Het jy geweet jou regtervoet het ’n wil van sy eie? Wel hy het. Hier is die
bewys:
1. Daar waar jy nou sit, lig jou regtervoet van die grond af en maak kloksgewys
sirkelbewegings daarmee.
2. Nou, terwyl jy dit doen, teken ’n denkbeeldige nommer ‘6’ met jou regterhand
in die lug. Sien? |