News -
Briewe
|
Saturday, 20 April 2024 09:00 |
Untitled Document
Koos Reyneke van Wapadrand (tans in Windhoek):
Ons het ’n oom Jan Richter gehad wat báie erg aan ons klomp onopgevoede Bosveldertjies gearbei het om suiwer Afrikaans te praat en hy was net behoorlik dood vir enige woord met selfs net ’n klankie Ingels. Nogal in Pietermaritzburg grootgeword.
Hy het gemaak of hy nie weet wat jy hom aanbied as jy vir hom ’n heerlike geurige ekstra-spesiale mango aanbied nie en het aanhoudend gesê hy eet nie vreemde goed nie! Eers as hy die woord ‘veselperske’ hoor het hy gesê: “Ja, asseblief, ek is dol oor veselperskes!”
Die beste woord wat ek by hom geleer het – dit was sy skoonpa, oupa van Zyl, na wie ek vernoem is, se woord – is ‘spookasem’ vir daai taai suikerwol wat die spinwiel maak.
In standerd ses (1960) bel ek van Krugerkoshuis se geldslukfoon vir Fanus Rautenbach met ‘Flink uit die vere’ en leer hom dié mooi woord wat hy onmiddellik begin gebruik en oor die radio bekendgemaak het.
Tukkie studente het my oupa van Zyl as chemielektor gehad en ook later hoof van landbounavorsing en uiteindelik hoof van Onderstepoort, voordat hy as dr Koos van Zyl die WNNR se takkantoor in 1957 in München, Duitsland, gaan begin het. |
|