Buks Dom Boer Barnard van Elandshoek:
Die weeskuikentjie het die hele nag stroopsoet en stil geslaap – in my hand onder ’n waslappie; net so af en toe fyn, tevrede kloekgeluidjies gemaak in sy soetste, fynste stemmetjie, liggies in my handpalm geskrop of aan my vingers geknibbel.
Die weeskuikentjie in Buks se hand
’n Keer of wat het hy teen my voorarm opgekruip om onder sy waslap uit te loer, maar gou weer teruggeskarrel na die warmte van my hand. ’n Kuiken verkluim gewoonlik deur sy voete, maar as sy voete lekker warm is, is hy veilig en tevrede. Met verlede nag se welkome reëntjie was dit koelerig en die warmte van ’n hand was nodig om Weeskuikentjie se voete en lyfie gemaklik te hou.
Buks het die weeskuikentjie by dié wit hennetjie se krosie gesit
Dit maak nie saak dat my ou lyf vanmôre ekstra stram en seer is van heelnag in dieselfde posisie lê nie – heelnag oormatig bedag op die lewetjie in my hand. En dit gaan al hoe moeiliker wees om Weeskuikentjie aan ander pleegouers oor te dra.
Die dag daarna het Buks laat weet dat ’n wit hennetjie sewe kuikens uitgebroei het. Toe hy die weeskuikentjie tussen haar krosie sit, het sy hom summier as kind aanvaar en hy haar as ma. – Red |