Trienie Botes van Cullinan:
My man, Tienie van Rensburg (nou woonagtig in Cullinan), het in die vroeë 60’s in Mayville grootgeword. Die predikant wat hom by Eloffsdal-Wes-gemeente gedoop het, was ds Jan du Rand.
Later van tyd het my man se ouers (oupa Tienie en ouma Mienie) hulle in Letsitele gevestig. In 1982 was die NG predikant daar ds Nico Steenberg en sy vrou Dorothea.
Op 24 Maart 2024 is ds Nico Steenberg by Premiermyn Hervormde Kerk in Cullinan gelegitimeer. Dis hier waar my man nou ook ’n lidmaat en ouderling is.
Van links na regs: Tienie van Rensburg; ds Nico Steenberg en sy vrou, Dorothea
Interessante feite is dat Dorothea se pa, ds Jan du Rand, my man in die vroeë 60’s in Eloffsdal-Wes-gemeente gedoop het en dat Dorothea as klein dogtertjie teenwoordig moes gewees het.
Ds Nico moes in sy tyd in Letsitele, vir ouma Mienie begrawe het.
Wat dit nog interessanter maak, is dat ds Nico vandag sy skoonpa se toga gebruik, wat hy geërf het nadat syne gesteel is. Dis dieselfde toga wat ds du Rand aangehad het toe my man gedoop is, wat beteken dat daardie toga meer as 60 jaar oud is en steeds in ’n puik kondisie is.
Met verloop van tyd, het al hierdie feite na vore gekom. In ons oë, ’n baie rare sameloop van omstandighede.
Brief verkort. – Red |