Gerhard Van Zyl van Moreletapark:
Ek het pas die Maart-uitgawe van die Bronnie ter hand gekry. Soos gewoonlik kon ek nie gewag het om te lees wat Angie in haar maandelikse ‘glansartikel’ te vertelle het nie. Hierdie keer die ou sterrewag op Waterkloofrif, iets wat my lankal reeds ontgaan het.
(Hiermee bedoel ek nie dat ek die ander artikels en bydraes en berigte in die Bronnie nie lees en interessant vind nie, inteendeel!) Wat my altoos laat wonder, is hoe jy daarin slaag om telkens wetenswaardighede uit die geskiedenis te ontruk; dit deeglik na te vors; en dit dan in keurige Afrikaans (met foto’s) met ons te deel. ’n Prestasie!
In my onkunde vra ek my dan af hoe op aarde jy dan elke maand ’n onderwerp, of projek, van meet af aanpak en dit dan ’n week of so voor saktyd persklaar maak? Of werk jy aan verskeie projekte tegelyk totdat een oplaas vir publikasie gereed is? Dus, hoe vermag jy dit en is jy dalk bereid om vir ons ’n bietjie lig op die saak te werp?
Wat die Bronnie en jou stories en bydraes betref kan en is jy sekerlik na elke publikasiedatum verlig en tevrede met dit wat jy weereens tot stand gebring het (Books, the children of the brain – Anon).
Dit word raakgesien (gelees) en waardeer. Jy gooi immers wal teen vervlakkings en vergetelhede. Soos oubaas Goethe tereg maan: “The decline of literature indicates the decline of a nation; the two keep pace in their downward tendency.”
So, teken gerus op; die geskrewe woord staan daar, en wat daar staan, staan daar tot in die verre toekoms, om dan weer deur ’n ander Angie opgepik te word!
Ons het Gerhard vir sy mooi woorde bedank. – Red |